MOSSELBAAI VERMAAK NUUS - Nóg 'n eksklusiewe musiekkonsert lê vir Mosselbaaise musiekliefhebbers voor.
Die wêreldbeminde sopraan, Janelle Visagie, gaan konsertgangers trakteer met La Bonne Chanson - Treasures of the French Mélodie.
Ravel, Fauré en andere vorm deel van die aand se sensuele en sielsverheffende program. 'n Gedrukte program, waarin die asemrowende Franse lirieke in Engels vertaal sal wees, sal teen 'n nominale fooi beskikbaar wees.
Janelle het onlangs wyd roem verwerf met haar vertolking van Mother Superior in die internasionale verhoogproduksie van The Sound of Music. Sy sal deur die bekwame pianis, José Dias begelei word. José is al vir 'n vuis vol toekennings benoem vir sy musikale produksie van, onder andere, Amore, Waansin en Poskantoor.
Bekroonde pianis, Jose Dias, begelei Janelle Visagie tydens La Bonne Chanson - Treasures of the French Mélodie.
Die duo bereik 'n wonderlike sinergie, en in 2017 het hulle 'n WoordTROfee vir Beste vokale optrede by die Stellenbosch Woordfees ontvang. Vroëer die jaar het hulle weggestap met 'n Fiësta-toekenning vir Beste klassieke produksie vir pioniers. By die 2018 Karoo Klassique is La Bonne Chanson met 'n staande toejuiging begroet.
Die konsert vind op Saterdag, 24 November om 19:30 by die Dias Museum plaas. Deure open om 18:30. Beprekings word sterk aanbeveel en kan by Abé Meintjes gemaak word (083 268 3718). Toegang is R100 per persoon vir lede van die Mosselbaai Kunstevereniging, R120 vir nie-lede en R30 vir skoliere. Lidmaatskap vir 2019 sal teen R110 per persoon vir die jaar reeds by hierdie konsert beskikbaar wees.
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus."