MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit werk met ywer om die plaaslike ekonomie te stimuleer deur onder meer feesgeleenthede te skep wat deur die plaaslike gemeenskap ondersteun kan word en om besoekers na die dorp te lok.
Feeste het plaaslik 'n bewese rekord om 'n goeie ekonomiese inspuiting vir die dorp te wees, maar dit gaan ook nie altyd oor die rand en sent nie. Die waarde van feeste om by te dra tot sosiale interaksie en kohesie tussen gemeenskappe, kan nie onderskat word nie.
Op Donderdag, 15 Junie, het kultuur- asook sportentoesiaste hulle nie deur die reënweer laat stuit om die beplanningsvergaderings vir onderskeidelik die Mosselbaai Kunstefees en die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees by te woon nie.
Waar die Kunstefees nog in sy kinderskoene is en vanjaar vir die eerste keer aangebied word, is sy ouboet, die Sport- en Rekreasiefees al 'n dekade deel van Mosselbaai se geleentheidskalender.
Beide feeste is op dieselfde lees geskoei en berus daarop dat die munisipaliteit fasiliteite gratis beskikbaar stel, asook ander dienste, waar moontlik bewillig. Verder onderskryf die munisipaliteit die feeste en dra hulle ruim by tot die bekendmaking van die lys van beplande aktiwiteite deur middel van verskeie mediaplatforms, by.
Bykomdende aktiwiteite
Die feeste word onder die voorsitterskap van die direkteur gemeenskapsdienste, Elize Nel, deur die munisipaliteit gefasiliteer en ondersteun.
Tydens verlede week se Kunstefees-vergadering is bekendgemaak dat die fees verleng word vanaf 14 Julie tot 3 September. 'n Breedvoerige lys van kuns- en kultuuraanbiedinge is voorgelê met die belofte van bykomdende aktiwiteite wat veral op kinders gerig sal wees.
Die elektroniese gebeurekalender vir die eerste Mosselbaai Kunstefees, sal vanaf 1 Julie op verskeie sosiale mediaplatforms, onder meer die Mosselbaai-munisipaliteit se webuiste en Facebookblad beskikbaar wees.
Ander vennote soos Mosselbaai Toerisme het ook te kenne gegee dat hulle die kalender aanlyn bekend sal maak.
Die Sport- en Rekreasiefees-vergadering is direk hierna gehou. Na verwagting sal daar weer meer as 40 sportkodes aan die fees, wat voorlopig vanaf 15 September tot 15 Oktober gehou sal word, deelneem. By die vergadering is genoem dat 'n paar interessante nuwe sportsoorte vanjaar hulle buiging sal maak terwyl ou bekendes soos motorsport, ná 'n afwesigheid, in alle waarkynslikheid weer sal plaasvind.
Een van die feeshoogtepunte is die terugkeer van die nasionale "Toughest Firefigther Alive" kragmeting, wat ook vanjaar verleng is om oor drie dae van 5 tot 7 Oktober sal plaasvind. Dié aktiwiteit was in 2022 'n groot gunsteling.
Gedurende die Mosselbaai-munisipaliteit se radiobeurte op SFM, Eden FM en HeartBeat FM volgende week (27-29 Junie) sal daar meer oor hierdie feeste uitgebrei word.
Skakel gerus in! Vir meer inlgting oor die fees, stuur e-posse na enel@mosselbay.gov.za, tlewaa@mosselbai.gov.za. eduitsjan@mosselbay.gov.za of ccarstens@mosselbay.gov.za
Die wiele rol vir vanjaar se eerste Mosselbaai Kunstefees, ondersteun en gefasiliteer deur die Mosselbaai-munisipaliteit, wat vanaf 14 Julie tot 3 September gehou sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’