MOSSELBAAI NUUS - 'n Belowende jong hokkiespeler, Girard September se familie is druk besig om geld in te samel vir sy sportreis na Egipte later vanjaar. Girard is gekies as deel van die AJ Sportweek-span wat in Egipte gaan deelneem. Die wêreldbekende kitaarspeler uit Herbertsdale, Hannes Coetzee, bekend vir sy 'n unieke en besonderse styl aangesien hy die kitaar tokkel met behulp van 'n teelepel wat hy in sy mond vasklem, tree tydens 'n fondsinsamelingskonsert vir Girard op.
Coetzee se naam het al geskitter saam met dié van die mees suksesvolle internasionale musieksterre tydens die gesogte Grammy-toekennings toe sy komposisie, Mahalla opgeneem is op die Grammy-genomineerde album Leaving Eden deur die Amerikaanse groep, Carolina Chocolate Drops. Coetzee het ook heelwat ander toekennings ingepalm oor die jare vir sy besonderse bydrae tot die uitvoerende kunste.
Aanvanklik "ontdek" deur Afrikaanse musiekikoon David Kramer toe hy opgeneem is in die produksie Karoo Kitaar Blues, is Coetzee steeds die nederigheid self.
Die geleentheid vind plaas op Vrydag, 13 Julie om 19:00 in die Lutherse Kerk se saal, Uitbreiding 13. Toegang is R50 vir volwassenes en kinders. Kaartjies is beskikbaar by die deure en kan ook vooraf bespreek word by Chris Fillies (082 430 9150).
Belowende hokkiespeler Girard September in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'