MOSSELBAAI NUUS - Hy was vir die eerste keer op 'n Mosselbaaise feesverhoog te siene tydens die Kwêla Dorp van die Jaar-vieringe, maar Herbie Michaels is beslis nie 'n groentjie in die musiekbedryf nie.
Dié musikant, wat sy eie musiek skryf en tans sy vierde album, Turning Back Time bekendstel, se lewe het al 'n paar onbenydenswaardige draaie geloop.
"Ek was in drugs betrokke en ook later 'n druglord in George. Die dinge het my in die tronk laat draai."
Gedurende sy tyd as verhoorafwagtende, het 'n persoonlike ontmoeting met sy Skepper egter tot 'n groot ommekeer in sy lewe gelei.
Tot so 'n mate dat hy sowaar sy eerste album se musiek daar reeds klaar geskryf het.
"Ek het 'n baie persoonlike ervaring met God gehad in 'n droom. Hy het duidelik vir my gesê dat ek nie snaakse dinge hoef aan te vang om iemand te wees nie. Hy het soveel deure vir my oopgemaak."
Herbie verduidelik dat 'n vrou jare gelede oor hom geprofeteer het dat hy sy eie musiek sou skryf en opneem.
Hy het egter daarvan vergeet en toe hy sy saak met die Here regmaak, het daardie woorde gestalte in sy lewe gevind.
Nuwe koers
Sy nuwe album, anders as die vorige wat grotendeels jazz-albums is, bevat 'n verskeidenheid van genres en sluit in R&B, 'n bietjie old school en selfs house, verduidelik hy, aangesien hy 'n breër gehoor wou bereik.
"Dit was nogal 'n uitdaging vir my, maar die skryfproses was makliker as wat ek gedink het.
"Ek moes net 'n effense stylaanpassing maak." Die album is opgeneem in Johannesburg in samewerking met Dr Victor se musikale regisseur, Henry Philemon, wat verlede jaar 'n SAMA-toekenning verwerf het vir die beste jazz-album.
"Ek ken Henry al jare. Hy het my lankal genooi om 'n album saam met hom op te neem, maar ek het gedink, ek is maar 'n ou van die platteland, dalk is ek nie goed genoeg nie. Maar toe besluit ek, ek moet sy aanbod aanvaar."
Hy skryf liedjies oor dinge wat die gemeenskap raak en probeer op dié manier, mense aanraak en bemagtig.
Wat misstappe in die lewe betref, meen Herbie dat om 'n suksesvolle ommekeer te maak, jy in drie goed moet glo.
"Glo in jouself, glo in jou droom. Kyk na die omstandighede om jou. Jy moet ook onthou, in die verhaal van die verlore seun staan daar 'ek sal opstaan en na my Vader gaan'. Jy alleen kan die besluit neem om te verander. God het vir ons elkeen 'n gawe gegee. Ontdek dit deur met God te connect en Hy sal dinge aan jou openbaar."
Herbie Michaels stel môre, 28 Oktober sy album bekend by die Bravo Lounge, Garden Route Casino.
Vir meer inligting, skakel 044 606 7777.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'