Die een, Moeder Moed en haar kinders, sou verlede jaar op Oudtshoorn debuteer, maar moes op die laaste nippertjie gekanselleer word. Dié jaar is dit volstoom vorentoe en word dit tydens die fees van 3 tot 11 April opgevoer met Aletta Bezuidenhout in die hoofrol.
Ander bekendes in die rolverdeling is Deon Lotz, André Roothman, Nicole Holm, Juliana Venter, Jacques Theron, Cintaine Schutte, Milan Struwig en Gideon Lombard. Moeder Moed is Bezuidenhout se eerste optrede op Oudtshoorn sedert Blou uur deur Reza de Wet in 2009.
Van haar aangetrokkenheid tot dié werk en die uitdagende rol, wat dikwels die “vroulike koning Lear” genoem word, sê Bezuidenhout, “Dit is die grootste anti-oorlogdrama van 20ste eeu en ek is my lewe lank sterk gekant teen oorlog. Omdat my rol so veeleisend is, het ek reeds lank voor die tyd begin werk aan my interpretasie en my spel vasgenael ten opsigte van die choreografie. Ek vertolk die rol in ’n moderne konteks en maak gebruik van die oorlewingstegnieke, chutzpah en super cool wat ek by my boere-oumas en ma geleer het.”
Saartjie Botha het die vertaling van Bertolt Brecht se Mutter Courage under ihre Kinder gedoen en die regie is deur Jerry Mofokeng. Botha vertel dat die saadjie vir Moeder Moed in 2012 geplant is by ’n teater-indaba van Kunste Onbeperk: “Jerry het terloops opgemerk dat swart akteurs gereeld en geredelik vir wit regisseurs speel, maar dat jy nooit die omgekeerde kry nie. Na ’n lang gesprek besluit ons toe om saam ’n produksie vir die Absa KKNK aan te pak. Mutter Courage was sy keuse. Dit is ’n tydlose relaas oor oorlog en al die mense wat daarby baat. Brecht sny al die groot temas aan: familie, geloof, politiek, ekonomie. Ons het dit verplaas na die Anglo-Boereoorlog.”
Mofokeng, wie se moedertaal Sesotho is, wou nie net ’n wit rolverdeling lei nie, maar wou dit juis in Afrikaans doen: “Ek, een van die jongmense wat in 1976 aan die opstande deelgeneem het, wat survival Afrikaans praat en in matriek ’n F vir Afrikaans gekry het!” Dit was Ingmar Bergman se Sweedse produksie van Macbeth wat hom oortuig het dat dit nie onmoontlik is nie. Mofokeng sê, “Die feit dat ek nie die Sweeds verstaan het nie, het my ander sintuie verskerp en kon ek die opvoering nogtans waardeer en die storie volg. Ek het my dus daaraan getroos dat my gebrekkige Afrikaans my sou help om die drama toeganklik te maak vir ander nie-Afrikaanssprekendes.”
Die tweede produksie waarna gehore kan uitsien, is Buite blaf die honde swart, die vertaling van Combat de nègre et de chiens deur Bernard-Marie Koltès, ’n kontemporêre stuk wat reeds soms as “klassiek” gereken word. Die rolverdeling vir dié debuutproduksie bestaan uit Dawid Minnaar, Albert Maritz, Tinarie van Wyk Loots en Owen Manamela.
Jaco Bouwer en Tertius Kapp, wat voorheen saamgewerk het aan die bekroonde Rooiland, het weer kragte saamgesnoer; Bouwer as regisseur en vervaardiger en Kapp as vertaler. Bouwer sê, “Ek sit al jare met die teks en is baie bly dat die Absa KKNK dit op die planke bring. Dit is ’n uitdaging om stukke soos dié, wat deur die polities-korrekte skyn sny, aan te pak.”
“Buite blaf die honde swart het ongetwyfeld die handskoene uitgetrek en weggegooi. Dit bevat blatante uitbeeldings van rassisme, harde taal en gesprekke wat wissel van uiterse sinisme tot absurde naïwiteit. Koltès plaas hierdie elemente egter meestal in ’n konteks wat dit ontlont of belaglik maak en gevolglik is die stuk nie wroegend nie,” sê Kapp.
Al die aksie vind op ’n konstruksieterrein in Afrika plaas en soos dit ontvou, stuur die vier karakters – die lewensmoeë baas (Minnaar), sy tweede-in-bevel (Pretorius), sy Franse verloofde (Van Wyk Loots), wat pas uit Europa gearriveer het, en die broer (Manamela) van ’n werker wat onder verdagte omstandighede dood is – onvermydelik af op ’n tragedie.
“Na die eerste repetisies het ek besef dat dit wat ek vermoed het, waar is: Die stuk het snaakser geword in Afrikaans. En dalk ook meer skreiend. Dit het nie noodwendig soveel met my vertaling te make nie, maar eerder met die feit dat sommige karakters baie maklik in ’n Afrikaanse (of in ons geval ook Nederlandse) idioom en leefwêreld pas,” sê Kapp. Twee van die karakters in sy vertaling is Suid-Afrikaans en nie Frans, soos in die oorspronklike teks, nie.
Wat kan mense wat nie Koltès ken nie verwag? “Ek dink mense moet dit kom kyk om ’n aktuele tema en karakters te ervaar. Daar is iets tragies en komieklik aan hoe naby aan die been Koltès se skryfwerk kom,” sê Bouwer. “Gehore kan verwag om uitsonderlike spel deur vier uitmuntende akteurs te beleef, vier karakters te ontmoet wat een aand in ’n swaar gelaaide atmosfeer veg om oorlewing – en ’n vlymskerp vertaling deur Tertius Kapp.”