Sondag 19 April 2020 (Inperking dag 24)
Broer en Poena was broers en ek wil glo, eintlik vir hulle onthalwe wil ek hoop, dit was nie hulle doopname nie. Broer was ‘n sieklike kind, bleek en verlep met meer dae in die bed as op die skoolbanke. Ek dink hy het in standerd drie siek geraak en drie jaar later steeds in standerd drie amper gesond geraak. Maar, hy was die buurt se wegkruipertjiekampioen.
As die res van ons wegskarrel terwyl die soeker tot twintig tel (behalwe haaslip-Jannie, ons het hom toegelaat om net tot by vyf te tel, anders het hy nooit begin soek nie) het Broer nêrens heen gehol nie. Hy het direk agter die soeker gaan staan of kniel of lê en as die outjie sy oë oopmaak en “Reg of nie, hier kom ek…” skreeu, het Broer om hom gestap, gekruip of geseil en homself teen die boom geblok.
En, as Broer die soeker is, het hy niemand gaan soek nie. Hy het met sy rug teen die boom gaan sit en bloot gewag tot ons ons uit ons wegkruiplekke uit verveel. Dan het hy sy hand bokant sy kop uitgesteek, die boomstam liggies getik en met sy hees bedlêstem “een twee drie blok vir Poena en Andries en Wally en Hannes” wegkruipertjie se rug geknak.
In die weermag moes ons ook hier tussen die bossies buite Oudtshoorn wegkruipertjie speel. Hulle het dit net kamoeflering genoem, en die soeker was ‘n korporaal met sy eie truuks. Hy sou rondstap en dan skree “Kom uit troep, ja jy met die groot pens,” (dan het drie van ons opgestaan) of “jy met die bril wat soos ‘n spotlight blink” of “jy met die bleek gesig soos ‘n Defy fridge” en dan het elkeen wat dink hy voldoen aan die beskrywing gedweë opgestaan, Sommiges selfs agter ‘n bult tussen hulle en die korporaal, mateloos beindruk met die korporaal se skerp waarnemingsvermoë.
En op 62 speel ek weer wegkruipertjie, maar dis nie met die buurt se seuns in Broer en Poena se erf in Liebenbergstraat nie, dis Covid-wegkruipertjie met die hele wêreld. Al verskil is, ons weet nie hoe die soeker lyk nie, ons ken nie sy truuks nie en ons weet nie tot hoeveel hy tel voordat hy begin soek nie. Ek dink die virus is ‘n kombinasie van Broer en die korporaal. Soms hang hy net iewers rond en wag totdat ons verveeld, honger of dors genoeg raak om uit ons skuilplek uit te kom. Ander kere skree hy korporaalagtig vals bevele uit en wag tot ‘n klomp swape opspring dan blok hy sommer die hele lot.
Wat my bangmaak van hierdie wegkruipery is dat daar na die speletjie nie Marie biscuits en rooi Kool-Aid vir ons wag nie. Nee, terwyl ons gedwing word om weg te kruip, loop die soeker rond en stroop ons kaal van alles waarop hy sy glibberige mikrotentakels kan lê. Ek is oortuig ons gaan die speletjie uiteindelik wen, maar dan begin ronde twee se harde opstaanwerk.