Met al die gerugte wat rondfladder oor President Ramaphosa wat 'n oorlewingstryd in die ANC veg nadat sommige van sy Covid-19-maatreëls deur ministers omgeswaai is en hofsake teen ministers oor die toekenning van hulpfondse, het my gemoed die afgelope aantal dae al swaarder en swaarder geword. Ek het meer en meer inkonsekwenthede begin raaksien en toenemend negatief geraak.
Negatiwiteit is net so skelm soos die virus, hy sluip ongesiens in, maak hom tuis en begin jou van binne opvreet. En, nadat ek gister besluit het om vir drie dae nie op Facebook te kuier nie, want die oorvloed negatiwiteit is eenvoudig oorweldigend, verbreek ek vanoggend halfsewe die voorneme. En ek is so bly ek het dit gedoen.
Die eerste plasing wat ek lees is dié van die jong digter Gisela Ullyatt. Gisela is met kanker gediagnoseer en ten spyte van maande se chemoterapie, moet sy nou 'n mastektomie ondergaan. Ek sê "jong digter" omdat sy slegs 43 is, nie omdat sy jonk is in die digkuns nie; hier het sy reeds duidelike spore getrap. Haar debuutbundel, Die waarheid oor duiwe, het onlangs verskyn en lok groot lof uit. Op haar Facebook-blad begin vanoggend se plasing met: "Dis nog donker. Die janfrederik sing helder psalms en gesange. Dit was 'n lang nag van min slaap. My tas lê gepak. Ekstra laaier vir my foon, ekstra oorfone, oorpluisies. 'n Paar stukkies klere."
Soos wat ek lees is daar nie 'n greintjie selfbejammering nie, nie 'n sweempie negatiwiteit nie, net 'n terloopse verwysing na pyn wat nie wil wyk nie. Maar, die foto wat van die blad af na my kyk, vertel die ware storie van die ware stryd wat sy vir haarself hou. Die deel wat my veral tref is wanneer sy na mense se houding jeens die grendelstaat verwys.
"Maar nou is my fokus om deur dié vuur te stap en anderkant uit te kom. Weliswaar nie heel uitkom nie, maar wie van ons is heel?
Ek sien uit na die lewe en alhoewel mense vir my sal sê dat daar niks is om na uit te sien in 'n grendelstaat nie, het ek 'n ander siening: om net te kan lewe is genoeg vir my op die oomblik, thank you very much."
Dan gaan sy aan om die klein dingetjies wat vir ons dalk moeite sal wees, te verhef tot iets vreugdevol. Om wasgoed te kan was en skoon klere van die wasgoedlyn af te haal verskaf vir haar net soveel vreugde soos gedigte skryf, musiek luister en eet en drink. Sy sluit af met, "Dit gee my vrede. Soos om op die oomblik na die helder klank van die janfrederik te kan luister in die silky oak. Ja, dis eintlik beter as enige track of playlist op Spotify."
Ek het vanoggend vir Gisela 'n Facebook-boodskap probeer stuur om haar sterkte toe te wens met die operasie, maar "sterkte" is so niksseggend. Al wat ek kon doen was om uit my hart uit vir haar dankie te sê dat ek vanoggend haar plasing van vrede en vreugde kon lees.