Die eerste keer toe ‘n kruispad my broos laat, kom ek met die truitjietannieverskynsel in aanraking.
My gemoed was so koud soos die hoëveldse winter waarin ek my bevind het. ‘n Besorgde vriendin stel voor dat ek haar kopdokter gaan spreek.
‘n Ander vriendin, rou Brit uit Londen bied aan om my te karwei. Dis goed donker toe ons haar motor voor ‘n fort met yslike bome in Parktown North parkeer. By die ingang is ‘n interkom met twee knoppies - house en therapy room. Ek druk die voor die hand liggende een.
“Stay in the car. I will fetch you,” blaf iemand. Ek gaan soek skuiling in die motor.
My vriendin kan sien die aand gaan sukkel en sy begin oor ‘n paar skoene wat sy in Sandton City gesien het gesels. Binnekort praat ons land en sand.
Beide van ons wip soos ons skrik vir ‘n gehamer teen my motorruit.
Shelley praat eerste en beduie met ‘n bewende vinger. “There is a bad cardigan lady at your window…”
Langs die motor staan ‘n middeljarige, vierkantige vorm met ‘n sout en peper kop, geen grimering en die grootste, los, oopknooptrui wat ek nog gesien het. Ek draai die venster op ‘n skrefie oop.
“I am Adeline. Come with me,” sê die vierkant.
Ek loop agter haar aan soos ‘n lam ter slagting en loer soos Lot se vrou oor my skouer na die veiligheid van Shelley se motor.
Die sessie verloop nie te aardig nie. Ons groet met die belofte van ‘n volgende afspraak.
Maar die volgende keer onderbreek sy my gemaklike ontlading met ‘n bevel. “Breathe…why don’t you breathe? You speak non-stop.”
Bad cardigan lady – 1. Cornelle – 0.
Met dié het sy my wind uit my seile. Ek mis my volgende afspraak. Sy bel my en sê: “I don’t think we are making progress. Get yourself another therapist.”
Ek het toe maar self reggekom. Maar ‘n trui, veral die oopknoopsoort wou ek voor my aangesig nie sien nie.
Tot verlede jaar met die inperking. Uit die bloute, soek ek net wolgoed. Truie, tjalies, musse. Toe iemand navraag doen oor dié gier, doen ek selfondersoek.
Sien, ‘n wolding voel soos om ‘n drukkie te kry. Met Covid-19 saam is ‘n heilsame en volhoubare plaavervanger vir aanraking.
Terwyl sosiale afstand, tuiskantore en uiteindelike vereensaming nou deel van ons programmateur geword het, betrap ek myself deesdae selde in iets anders as ‘n trui. Outydse kortetjies wat tot onder die keel toeknoop. Oorgroot, vormloses wat geduldig die inperking se onaktiwiteit bedek. Ook die lang oopknoopsoort waarin die vermoeide terapeut my op loop gejaag het.
Toe ek nou die dag koulik in die wintersonnetjie sit, sê my seun ek lyk soos my ouma. Ek wou eers aanstoot neem, maar besef toe hy is reg. Kompleet. Swart langbroek. Serpie. Winterwit bloes. Die lang, roomwit oopknooptrui.
Dalk was die bad cardigan lady nie so bruusk as wat ek dink nie. Dalk net het sy ook maar net op ‘n plek gekom waar sy permanent ‘n drukkie benodig het as buffer teen haar kliënte se klaagliedere.
‘n Vriendin, knap ouer as ek, bevestig my vermoedens. Verlede week het ons ‘n koffie-afspraak. Haar trui, hoewel dit die eerste is dat ek haar in een sien, beïndruk my.
“Dit was my ma s’n. As ek haar mis, dan dra ek dit.”
Daar kom ‘n tyd, dat ‘n truitjie jou breekwater teen die lewe word.
Daardie tyd, vir hierdie truitjietannie, het glo aangebreek.
Foto: Mariska Visagie