"Ek weet nou nie of ek dalk al die storie vertel het nie, maar..." Aan die onderlangse kyke wat hulle mekaar gee, weet ek die gehoor, my seun en sy vriend het nie heeltemal lus vir wat gaan volg nie. Maar ek laat my nie van stryk bring nie. My prestasie is immer gelykstaande aan dié van 'n Oakdale-bul.
Ek is nie ‘n plaaskind nie, maar het so goed soos een grootgeword want my pa was onder die melkkoeie in.
Hy het jarelank vir Clover gewerk en soos die tyd toegelaat het, was ek pal saam met hom op pad plase toe. Jy kan my niks van die geurigheid van kuilvoer vertel nie en vir die binnekant van ‘n melkstal deins ek nie terug nie.
Vra jy my na ‘n reuk wat my heimwee gee, sal beesmis hoog op die lysie wees en as ek my oë toemaak om te ontvlug na ‘n beeld van pure vreedsaamheid, sal dit ‘n rustige prentjie wees van Frieskoeie wat staan en wei.
My pa, ‘n kundige in sy veld, het gereeld op landbouskoue vir die jeug in die destydse Transvaal beoordeel. Met die Vrystaat altyd maar ‘n kortkop agter, was daar nou nie sulke opwindende geleenthede waar ek grootgeword het nie. Maar pionier wat hy is, besluit my ou Vader dat dié stand van sake nou nie sal deug nie.
En so begin hy reël aan die Vrystaatse Jeugksou, gehou op ons buurdorp Kroonstad. Om deelname so met vertrekslag te stimuleer, mag dorpsjapies ook inskryf, solank jy natuurlik net ‘n bees in die hande kan kry om te skou.
Met ‘n kenner se oog kies my ou Vader vir my ‘n mooie vers op ‘n stoetboer se plaas. Spitsvuur Laura. En Laura was voorwaar volgens standaarde nie net skougehalte nie, maar sy had die persoonlikheid van ‘n kampioen. Na ‘n paar oefenlopies aan die toom, is ek en Laura toe ongetwyfeld bestem vir groot dinge.
Maar so kalm as wat ‘n melkbees kan wees, is die skou-opwinding vir Laura een te veel. Op pad na die ring toe, op my pa se instruksie, stop ons eers by die krip vir ‘n slukkie water. Laura het egter ander planne. Sy wil gaan skou. Soos ons geoefen het, loop staan jy net voor jou bees om haar te laat verstaan sy moet nou vries.
Maar Laura se adrenalien pomp. Eers trap sy met haar volle gewig op my voet en tevergeefs stoot ek aan haar dat sy moet bes gee. Met die gestoei verloor ek my balans en beland agterstewe eerste in die waterkrip. O ja, het ek vergeet om te vertel dit was vroegoggend Juniemaand?
Soos ek spartel om uit die waterkrip te kom en nie boonop aan hipotermie om te kom nie, besluit Laura dis tyd vir aanstap. Met die nattigheid wat nou al afstroom tot in my waterstewels, hoe ironies, hinkepink ek met ‘n halfvergruisde voet agter die bees aan tot groot vermaak van die ander deelnemers. Dis nou insluitend ou Fires van Vuuren op wie se plaas my pa vir Laura gaan uitsoek het. Gedagtig aan die verleentheid saam met die feit dat ek nie ‘n gebore plaasjapie is nie, het Fires hom voortydig in sy triomf verlustig.
En wie wys toe vir wie waar Dawid die wortels gegrawe het? Teen die einde van die skou, nat sitvlak, potblou geskneuse voet en al, wen ek en Laura vyf medaljes.
“Ons kiekie was tot in die Landbou Weekblad en ou Fires…Fires het my nooit vergewe nie. Julle twee het my nou nie vir so ‘n prestasie aangesien nie, het julle?”
Stilte.
“Het julle…?”
Toe ek omkyk van die skottelgoedwasbak, is die bank waar die seuns oomblike gelede nog gesit het leeg.
My seun skaam hom nou seker weer dood vir my storie. Wel, ‘n mens kom nie aldag in die Landbou Weekblad nie, dink ek ter troos. Dit kon veel erger gewees het. Ek kon vir By die Opsitkers geskryf het en só probeer man vang het. Ek ken mense wat dit gedoen het ook nog – met twyfelagtige sukses.
Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.