Tydens harde grendeltyd twee jaar gelede, het ek een vaardigheid aangeleer. Om televisie te kyk. Vir my was dit nog altyd 'n vreeslike mors van tyd, maar toe het ek skielik 'n klomp ekstra ure om vanweë die inkluistering te verwyl.
Hierdie tydmorsgevoelte, hoewel dit my 'n uitsondering op die reël gemaak het, laat my skynbaar in uitgelese geselskap. Loop vra maar die ekonoom Dawie Roodt – ons deel klaarblyklik dieselfde sentiment. Hy't sy televisie glo heel weggemaak. Seker niks met sy jonge vrou te doen nie – ek wonder maar net.
Saam met die skokbesef dat ek verlei kon word tot vraatkykery, was daar 'n nog groter openbaring in terme van my menslike verval. Dis die aand toe ek besef dat die dowwe kol voor my regteroog nie weggevryf kan word nie.
Só vergeet ek van die effense wasigheid tot ek verlede jaar op Riversdal voor die munisipale verkiesing die aankondiging van die DA se kandidate moet gaan afneem. Kwaliteitbeheer na die eerste foto of twee, laat my skielik wonder of ek per abuis vergeet het om die auto focus-knoppie te druk. Instinktief trek ek die kamera verder van my gesig af om op die hersienskermpie te kyk, maar hoe voel dit dan of die band waaraan die kamera om my nek hang dan nou te kort is?
Jip. Reggeraai. Met geduld en deernis verduidelik die optometris presies wát ouderdom met die oog doen.
"Hoe oud is jy nou?" Sy vra versigtig. Ek antwoord.
Haar repliek: "Toemaar jy't lank gehou."
Haar poging om my beter te laat voel slaag nie. Lank genoeg, maar nie lank genoeg na mý sin nie.
Later op dieselfde gewraakte dag, stop ek by Checkers vir die noodsaaklikste. Ek blits deur die rakke. Voor die sjokoladerak staan 'n vrou, moontlik 'n jaar of wat my junior saam met haar volwasse dogter. Ek, is op spoed.
Soos dit enige moeder betaam, skiet die vrou se hand vorentoe om haar dogter teen die aanstormende ek te beskerm en sy roep uit: "Passoppietannie!"
Dié oomblik laat my voel asof ek op 'n piesangskil gly. Sou die vrou van mý praat? Moet wees, want toe ek omkyk is daar slegs 'n paar manlike winkelassistente agter my.
Toe ek uit die mall na my motor toe stap, sien ek net tannies raak. Oral. Vir 'n week lank gaan dit so. Mosselbaai is propvol tannies waarvan ek skynbaar ook nou een is.
Tydens 'n kuiertjie op sosiale media, kom ek op 'n video-onderhoud met die bekroonde aktrise, Dame Helen Mirren af. Sy gesels oor haar voorbladfotosessie vir People-tydskrif se skoonheidsuitgawe.
Sy verduidelik in haar spog Engels dat sy nog nooit aan haarself as "beautiful" gedink het nie. Eintlik, meen sy, het sy 'n probleem met dié woord. Dis beperkend en uitsluitend volgens geykte standaarde. Sy verkies 'n plaasvervangerwoord – swagger.
Mirren sit my kop aan die gang en ek raadpleeg my gunstelingtaalbron, die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Swagger word onder meer verduidelik as spoggerig, piekfyn, windmakerig stap en jou lyf grootman hou.
Danksy Mirren, toevallig ook 'n tannie, vorm daar 'n heel nuwe prentjie in my kop. Ek sien nou weer kans vir Checkers. En kyk hier, wees gewaarksu. Ek gaan deur daardie rakke stap asof dit die loopplanke van Milan is. Hulle gaan so padmaak voor my. Ja, passoppietannie, want sy't swagger.
Die swagger wat jy anderkant die halfpadmerk en swaksiende slegs op meriete verwerf.
* Hoe lyk jou "swagger"? Stuur e-pos na cornelle@groupeditors.co.za