Ek was my oupa Gert se oogappel. Daar is min dinge waarmee ek nie by hom kon wegkom nie. Behalwe een. My pa sê altyd dat ek kleintyd soos ‘n wipgatmier was. Ek het my gou vervies en dan goedsmoeds “nee” gesê.
Maar nog altyd lief vir konsert hou, het my oupa dit vreeslik geniet as ek die kuiergaste vermaak. Tot ek begin nee sê het. Dit stop toe ook nie net by verseg om op te tree nie, maar besoedel toe my totale geneentheid om opdragte uit te voer. Êrens op hierdie pad na die verderf, neem my oupa my toe op sy skoot. “As my ou liewedingetjie nou weer ‘nee’ sê, gaan Oupa jou pakslae gee.”
Dit was meer as net ‘n vriendelike waarskuwing. En toe hou ek op met nee sê. Vir jare nou al sê ek verdompwil ja vir als, dikwels tot my nadeel, want ek weet net nie waar om die streep te trek oor dinge wat ek my naaste beloof nie. Veral op Woensdae.
Op Woensdae sal ek ja sê vir enigiets net om die vraer van die foon af te kry omdat dit saktyd is.
Voor die wenkbroue begin lig, ek praat hier van fatsoenlike versoeke hoor, verdienstelike sake ter verbetering van die samelewing. Eendag het ek en ‘n kollega selfs stry gekry oor nee sê toe sy my kapittel dat ek nie ‘n storie verder jaag nie.
“Ek is seker dan maar ‘n treurige joernalis, want my ma het my geleer om ‘nee’ vir ‘n antwoord te vat.” My stelling het by kwaaivriendskap gaan draai, synde dat my kollega toe meen dat ek haar opvoeding onder verdenking plaas.
In 2014 skryf James Altucher die boek, The Power of No. Alhoewel nee soms die moeilikste woord is om te sê aldus die skrywer, is dit dikwels die noodsaaklikste een.
Hoeveel keer het jy, soos ek, jouself al betrap dat jy ja sê vir onrealistiese verwagtinge, uitmergelende verhoudings en tydrowende verpligtinge? ‘n Ander kollega het jare gelede, toe ek nog veel jonger was met baie meer stamina vir ja sê, my dalk al probeer waarsku teen my oordrewe pligsbesef.
“If it hurts, don’t do it. Embrace the power of no.” Hy was ernstiger as normaalweg dié dag toe ek steirend onder ‘n vrag blink tafeldoeke die Sandton Hilton instorm om vir ‘n galageleentheid op te stel. Daar is krag in ‘n goedgeplaasde, ferm dog vriendelike nee.
Om nee te sê, kan letterlik jou lewe red. En skynbaar jou jare verleng te oordeel aan ‘n toneel wat joernalis Murray La Vita in sy boek, Gesprekke met merkwaardige mense, beskryf. In sy boek, vervat La Vita ‘n onderhoud met die befaamde joernalis en humorskrywer Madeleine van Biljon. Hy beskryf die formidabele Madeleine in haar ouetehuiskamer waar hulle gesels.
Aan die einde van hulle gesprek, wys Madeleine vir hom twee kussings wat sy geborduur het. Op die een is haar ouderdom in Romeinse syfers – LXXX. En op die ander een - veertien keer - die woord “nee”.
Ek sal moet briek aandraai as ek dáár wil uitkom. Nee – ek gaan nie sê hoe oud ek is nie. Lewer kommentaar of stort jou hart uit deur gerus ‘n e-pos aan die skrywer te stuur na cornelle@groupeditors.co.za