Verbasing is 'n vreemde ding. Dit kom dikwels as iets gebeur het wat mens eintlik te wagte was of ten minste moes wees. Soos iemand wat sy hek laat oopstaan en dan verbaas is as sy kruiwa en tuinslang en tuinstoele die volgende oggend weg is en die hond wat in die gang slaap het nie eens geblaf nie.
Sommige dinge is voorspelbaar, sommige is nie net voorspelbaar nie, dit is 'n gegewe en tog bly ons verbaas oor die uitkoms.
Vir dekades word ongevalle-eenhede by hospitale oorval deur beseerdes wat as gevolg van dronk mense se optredes haastig hospitaal toe geneem word. Skielik is die regering vreeslik verbaas dat ongevalle-eenhede oorweldig word sodra die verbod op alkohol ophef word. So asof dit 'n vreemde verskynsel is. Dit maak nie saak hoeveel keer hulle drank gaan verbied nie, die uiteinde gaan telkens dieselfde wees. Dis soos om 'n prop onder uit 'n vol watertenk te trek en verstom te staan as die water uitstroom.
Vir dekades word ons staatskas geplunder en politici en hulle grypgenote leef in weelde ten koste van die belastingbetaler en nou is die president verstom dat mense so wragtig, kan jy dit glo, in die tyd van Covid miljarde steel.
Dink hy dan dat gierige skelms skielik in die aangesig van 'n pandemie 'n gewete kweek? Hoekom verbaas wees, dis hoe dit altyd was?
Die pandemie bied bloot nuwe geleenthede, want die ander spaarvarkies soos die SABC, SAL, Eskom en Prasa lê lankal in skerwe en daar is nie eens genoeg geld om die stukkies aanmekaar te gom nie.
Maar, ongelukkig is alles nie so mooi duidelik uitgespel soos die invloed van drank op hospitale en die onblusbare passie waarmee sommige politici geld steel nie. Sommige dinge word pragtig verdoesel as "hulp" en dan kan mense dalk met reg verbaas wees as hulle besef die hulp was eintlik 'n reusestraf. Ek dink nou weer aan die storietjie wat Archy die kokkerot vir Mehitabel die kat in Don Marquis se boek vertel het. Hy vertel van die lammertjie wat huppelend gaan water drink en deur 'n wolf bekruip word. 'n Jagter skiet die wolf, red die lammertjie se lewe en vat haar huis toe vir die pot.
Ek sien die "payment holidays" wat links en regs uitgedeel is, in die lig van hierdie storietjie. Derduisende mense het daarvoor geval, sommige omdat hulle geen ander keuse gehad het nie, maar vele ander wat dit as 'n geleentheid gesien het om 'n klompie paaiemente te mis. Wat die instellings egter nie mooi duidelik in vet letters bo aan elke aanbod uitgespel het nie, is dat rente aanhou loop. So die "hulp" wat gulhartig aangebied is, was ook maar 'n manier om later as alles weer normaal is, 'n ekstra pond vleis uit die skuldenaar te pers. Daar word deur die kundiges bereken dat Suid-Afrikaners se skuldlas as gevolg van die betalingsvakansies met miljarde toegeneem het.
Ek was self jare gelede so gevang deur die destydse Trustbank wat aangekondig het dat mense slegs 1% van hulle skuld as paaiement hoef te betaal en toe versier hulle die koek nog verder met 'n aanbod dat mens vir Desember en Januarie glad nie iets hoef te betaal nie. Hulle was nog meer vermetel as vandag se instellings; hulle het sommer self die besluit namens jou gemaak en as jy dit nie wou aanvaar nie moes jy aansoek doen om nie die "voordeel" te geniet nie.
Groot was die skok toe ek weer 'n staat ontvang en sien ten spyte van 'n jaar se paaiemente skuld ek die bank skielik R700 meer as gevolg van die rente wat opgehoop het.
Die pandemie is nie vir my ontstellend omdat mense doodgaan nie, dit is nie vir my ontstellend omdat ons in ons huise moes bly terwyl die wêreld besig was om uit te vind wat eintlik aan't gebeur is nie.
Dit is vir my erg ontstellend dat die pandemie gebruik word om sommige mense en instansies verder te verryk. Dit is onverskoonbaar.