BLOG - Klein plattelandse dorpies hou 'n bepaalde bekoring in - veral vir diegene wat nie hulle daaglikse brood daar hoef te verdien nie.
Menige Suid-Afrikaner het vroeë herinneringe aan speel in stofstrate en kleingeld in die hand by 'n hoekkafee of algemene handelaar om 'n paar los lekkers te koop.
Maar soos in die res van die land, verdwyn die soet herinneringe aan klein dorpies vandag wanneer die wrede werklikheid voor 'n mens kom staan: ons land word lewendig verteer deur misdaad.
Plattelanders is vindingryk en vergewensgesind; en het allerhande maniere gevind om met lastige misdaad saam te leef: "Ag, jy weet, ten minste het ons nie eintlik sinnelose halsmisdade soos moord, gewapende roof, motorkapings en verkragting soos in die stede nie. Mense, oor die algemeen, word nie seergemaak hier nie. Dis meestal maar net inbrake en diefstalle."
Die vergewensgesindheid van die deursnee plattelander is amper so lank soos 'n Karooboer se geduld wanneer hy die wolke dophou.
Selfs wanneer 'n inwoner in die oggend vroeg moedig nog 'n dor dag se stryd om oorlewing begin stry, net om dan te ontdek 'n sluiper in die nag het hulle gestroop van wat hulle met moeite vergader het, vind hulle 'n verduideliking vir die misdaad: "Mense kry swaar hier. As jy regtig niks het om te eet nie, wat moet jy doen as jy jou voete al deurgeloop het om werk te soek, maar daar is bloot net niks in hierdie dorp nie?"
Raak die frustrasie, of die gereeldheid van inbrake te veel, lug inwoners hulle mening in gesprekke by gewone bymekaarkomplekke soos in 'n winkel, by 'n straathoek of op sosiale media:
"Dis die aankopers van die gesteelde goed! Die polisie moet die aankopers van die gesteelde goed 'n slag 'n les leer. Hulle is net so erg soos die inbrekers en diewe!"
En dan is daar die grootste stille vyand van enige hoop vir die toekoms van 'n ordentlike gemeenskap: dwelmmisbruik. Soos kouevuur 'n liggaam stuk vir stuk aanval en metodies verrot sonder keer, is dwelmafhanklikheid besig om die platteland se hoop en trots – die jeug – stuk vir stuk onder ouers se neuse weg te steel.
Terwyl ouers toekyk, verander dwelmmisbruik hulle eens gesonde baba en later kosbare kleuter – met hordes kiekies van die eerste tree, die eerste woorde, die eerste skooldag in 'n blink nuwe uniform wat die ouer skaars kon bekostig – in 'n inwonende monster wat niks en niemand ontsien nie.
Ouers weet maar te goed wat hulle kinders doen om middele te bekom om die immer groeiende afhanklikheid te voed.
Dikwels loop ouers self deur onder hulle kinders se misdade. Dit is juis hierdie bose kringloop wat ouers, en die algemene gemeenskap, magteloos laat gryp na verduidelikings soos: "Dit is die onbevoegde, korrupte polisie se skuld; dit is mense se eie skuld dat hulle nie hulle goed beter beveilig nie; dit is die aankopers van gesteelde goed se skuld".
Ja, dis gereeld iemand anders, nie die misdadiger of die beskermer van die misdadiger, se skuld nie.
Die ander kant van dieselfde munt is egter 'n waarheid wat min durf erken. Skaarser as 'n teerstraat in 'n Karoodorpie is die ouer wat sal erken: "Dit is my kind wat ander mense se lewens omkrap. Dit is my kind wat inbreek en steel van ander. Ek herberg en koester 'n monster". En omdat die lewe alreeds so 'n wurgende oorlewingstryd is en die ego broos bly, het min ouers die inbors om naak eerlik in die spieël te kyk en te erken: "Ek moet iets doen. En die eerste stap is om op te hou om my kind se optrede te regverdig en hulle te beskerm."
Want erger as die verswelgende misdaad, is die skade wat ouers self aan hulle kinders berokken deur hulle kinders se dade te regverdig. Die algemene reaksie is dat die geliefdes van 'n plattelandse gewoontemisdadiger met mag en krag die nugter waarheid ontken en beveg,
"... want ten minste maak hy niemand seer of dood nie".
Maar erger as die jongmens wie se elke asemteug en gedagte deur hulle dwelmnood beheer word, is daardie jongmens wat nie 'n stryd om oorlewing stry nie en tóg kies om misdaad te pleeg, bloot omdat hulle kan. Daardie jongmens wie se ouers dikwels 'n ereplek in die samelewing het; wat kan koop wat hulle hart ook al begeer; wat die middele het om 'n opbouende, positiewe bydrae te maak, maar kies om 'n skrikbewind van misdaad te voer. En selfs erger as die ergste is waar dit juis daardie gegoede, invloedryke ouers is wat alles binne hulle vermoë doen om hulle kind se wandade weg te steek.
Nie al die materiële besittings en sukses in die ganse wye wêreld kan die inherente geestelike armoede en swak karakter verskans wanneer 'n ouer hulle kind toelaat en beskerm om misdaad te pleeg nie.
Meer as die jong misdadiger se eie vernielende handelinge, is dit die ouer geslag se helpende hande wat nie net die jongeling nie, maar uiteindelik 'n hele gemeenskap, van die wal in die sloot help.
Die een verkeerdste uitdrukking in ons pragtige Afrikaans is: "Geld wat stom is, maak reg wat krom is."
Geen (omkoop) geld maak misdaad wat verkeerd is, reg nie; dit skep die teelaarde vir vretende, verorberende kouevuur wat 'n hele gemeenskap laat verrot - van die misdadiger tot die slagoffer en die polisielede.
Die kenteken van 'n terminaal siek gemeenskap is wanneer 'n inbraak plaasvind en die hele samelewing - ingesluit die gesagstrukture - weet en bevestig wie die boosdoener is, maar 'n versmorende kombers word stil-stil oor die boosheid getrek sodat alles wat goed is op 'n klein plattelandse dorp uiteindelik in dawerende stilte versmoor.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.