Om op jou sterfdag nog jou eie bed op te maak, veral as jy 96 jaar en 6 maande oud is, is merkwaardig.
My ouma sit op die armleuning van een van haar voorkamerstoele. Sy is bleek en merkbaar moeg, maar so netjies soos altyd. In haar een hand het sy ‘n mop. Sy maak nog ‘n grappie en sê dat die huishulp haar gevra het of sy dan nou vandag vloere was. “Ek was te skaam om vir haar te sê – nee, ek gebruik dit vandag vir ‘n kierie om by my bed te kom,” sy lag haar kenmerkende laggie, effe moeisaam.
Dis een ding van my ouma, ‘n gawe - te midde haar diepste smart, kon sy netso moeiteloos ‘n kwinkslag maak om die hele atmosfeer te verander.
Ek vra of ek haar tot by die bed kan help, haar tee kan dra. “Nee my liefie, ek sal regkom. Gaan doen jy nou jou dinge.”
Dit was haar laaste woorde aan my. Ure later, op dieselfde dag sou my ouma in die arms van haar oudste en jongste dogter en haar skoonseun van 58 jaar, die lewe laat – op haar bed in haar eie woonstel soos dit haar begeerte was. Dit was skemertyd toe die son op 8 Desember oor haar lewe gesak het.
Voordag op Woensdag, 9 Desember besef ek dis die eerste keer in my leeftyd van 47 jaar, dat ek sonder 'n ouma wakker word.
En toe dink ek. Dis amper soos die lirieke van Matthys Roets se lied, In My Lewe.
In my lewe..is dit die mooiste ding waaroor ek kan skryf.
My ouma was nog altyd lief vir koerant lees. My weeklikse rubriek ook. Elke keer as ek in haar kombuis kom en die Mossel Bay Advertiser lê oopgeslaan op die brieweblad waar Kantlyn, voor Covid-19 en sy "inperkings" sy plekkie gehad het, dan glimlag my hart. Of sy dit nou so neergesit het net voor my koms, weet ek nie. Selfs al was dit die geval, het dit die gewenste effek op my gehad. Sy het inderdaad gereeld as inspirasie vir my rubrieke gedien.
Dit mag dalk soos ‘n teenstrydigheid klink, maar eintlik weet ek min van my ouma. Vra jy haar na die ou dae, het sy altyd gesê: “Nee my liefie, soos die apostel Paulus, maak ons ons los van wat agter is en strek ons ons uit na wat voor is.” Beslis was sy nie een vir hingel in die verlede nie. Inteendeel, sy was ‘n moderne mens, met vaste, ouwêreldse waardes en beginsels.
En ‘n duiwelsadvokaat hoor! Moenie glo dat jy by haar moes kom met ‘n eensydige argument nie.
Hoewel nie een van ons dit regtig verwag het nie, moes ons seker, soos ons nou terugkyk begin agterkom het dat haar lewenskrag taan. Ouma was immer op die hoogte van al die jongste nuus – plaaslik, nasionaal, wêreldwyd. Elke nuusberig op die radio en televisie wat sy kon volg, het sy. Maar die afgelope maand, het die radio en televisie al stiller begin word.
Die regverdigste mens wat ek tot nog toe geken het, sou sy sy haar nooit daaraan skuldig maak om jou ‘n sent te skuld as jy vir haar moes winkel toe gaan nie. Maar vanweë haar liefde vir tuinmaak, kon sy ‘n plantjie of ‘n steggie nie weerstaan. Op ‘n keer tydens ‘n besoek aan die Dias Museum, sien sy ‘n klein aalwyntjie uit die plaveisel groei. “Cornellie, sal ons dit nie maar uithaal nie? Iemand gaan dit tog net uitruk en weggooi vir onkruid.”
Die laaste paar weke, het haar lieflingplant, die angelier by haar voordeur nie die aandag gekry wat sy normaalweg daaraan sou gee nie. “Ouma se angelier is in die blom,” sê ek toe ek onlangs inloer. “Ag my liefie, ek voel so sleg. Ek moet die blare versorg, maar ek kom nie daarby uit nie. As ek net weer sterker kan voel.”
Ouma het haar lewe opgepas. Geoefen, aanvullings gedrink, gereeld dokter toe gegaan. Elke keer die laaste tyd was die diagnose egter dieselfde: “Mevrou Saayman, jy het net een probleem. Jy is 96.” Verlede week, toe ons die laaste keer bloeddruk, saturasie en dies meer laat neem, vra sy my weerloos, gelate: “My liefie, is dit dan maar die ouderdom wat so maak?”
Ja Ouma. Dit is – dit is die angel van tyd.
Al was daar in my 47 jaar letterlik honderde herinneringe, is daar twee goed in die onlangse verlede wat ek my toeien en saamvat die toekoms in. Toe ek en my ouma verlede jaar saam kon gaan stem in die nasionale verkiesing. En toe sy kom kyk het hoe ek Flamenco-danse op die sypaadjie in Marshstraat doen. In beide gevalle was dit ‘n eerste, en waarskynlik ‘n enigste, vir ons albei.
Toe ek hierdie week begin soek deur die honderde foto’s van my ouma om ‘n oorsig van haar lewe soos ons haar geken het te kry, is daar een wat uitstaan soos ‘n rooi sinjaal.
Sy staan voor die kieslokaal in Mei 2019, geklee in haar kisklere, ‘n swart baadjiepak en ‘n spierwit bloes. Haar hare, op 95 nog nie eens noemenswardig grys nie, is nie ‘n krul uit plek nie. Haar oë helder blou - trots, wakker en bewus. In haar hande, met die swart vingerlose kanthandskoene hou sy ‘n plakkaat: #IMadeMyMark*.
Kyk 'n video hieronder:
*Cornelia Johanna Saayman (née Uys) is gebore op die plaas Doornrivier, Albertinia op 21 Junie 1924. Sy het geboer op die plaas Onverwacht en daarna op Albertinia gewoon. In Oktober 2016 het sy na Mosselbaai verhuis en in haar eie woonstel by haar oudste dogter gebly. Sy is oorlede op 8 Desember 2020 om 18:30.
* #IMadeMyMark – was die hutsmerk van die algemene verkiesing in Suid-Afrika 2019.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'