Sedert die President verligting vir die dra van maskers aangekondig het, voel dit my al of ‘n mens meer irritasie met die bekmombakkies ervaar as voorheen toe jy dit oral heen moes dra.
Inteendeel, dit tref my dat mense meer en meer, selfs binnenshuis net voel, basta met dié besigheid!
Nou die dag gesels ek en ‘n paar enkellopende vriendinne hoe ons skelm heen en weer by ons bejaarde ouers gaan kuier het. Dit voel onwerklik, die klandestiene byeenkomste met jou eie bloedmense. Ons lag nou daaroor, vir die belaglikheid van als en die grootheidswaansin.
Hoe gewoond het ons nie aan die abnormale geraak nie. En steeds, het talle nie die vreeslike pes ontsnap nie. ‘n Grap, was dit beslis nie. Mense is ontheem uit hulle plekke van bekendheid uit. Veral wat hulle sosiale geborgenheid betref. Ons huiwer steeds voor ons bladskud en daar is ‘n onsekerheid oor ‘n drukkie gee.
Vir sommige is die verlies aan hierdie lyflike nabyheid ‘n bedekte seën. Soms voel dit egter of die materiaal van ons menslikheid so effe beginne uitrafel en skif het soos ‘n opgedrade masker.
Van die aardigste ervarings wat ek tydens die grendeltyd gehad het en vergeef my eerlikheid, was ‘n oproep van my kerk. Die op die oog af gawe vrou aan die anderkant van die lyn wou verneem of ek nog okay is.
Wel, in daardie stadium was ek. Voel ek nou nog so? Ek hou liewer my masker op. Ek wag vir haar om die oproep te beëindig, toe sy baie terloops vra: “Wag…jy woon mos saam met jou ouers? Hoe gaan dit met hulle?” Ek antwoord so half onkant “goed dankie” en ewe verlig kom die antwoord: “Ag dankie tog, nou spaar jy my twee oproepe.”
Hoor my reg, vanuit ‘n praktiese oogpunt verstaan ek heeltemal die vrou se verligting. Maar ek weet ook hoe baie daardie oproep deur die twee 70-plussers waardeer sou word. Ek weet ‘n menslike, warm stem verteenwoordigend van pastorale omgee sou soos waters waar daar rus is vir hulle wees in ‘n tyd toe veral oues letterlik vir hul lewens gevrees het.
Heelwat water het sedertdien in die see geloop en so ook, het die mensdom skynbaar tussen die ekonomiese inkrimping en stygende sterftesyfer, minder begin omgee oor wie nou eintlik okay is en wie nie.
Inteendeel, mense het – en met reg – vanweë die lang ure in hulle grendelgrotte klaarblyklik begin vergeet hoe hulle medemense lyk. Gegewe kan ‘n mens die masker tot op ‘n punt blameer vir jou eie swaksienigheid.
Maar is dit regtig dat jy nie sien nie, of wíl jy net nie sien nie? Mosselbaai brei uit, maar goddank, is ons nog nie ‘n metropool nie. Hier, kén ons mekaar nog, al neem dit soms ‘n rukkie om iemand te eien. Ek vra myself soms af waarteen kyk ek en jy onsself nou eintlik vas? Wat verhoed dat ons mekaar sien en groet? Is dit toe wragtag ‘n masker?
Wat die rede ookal mag wees, kom ek vra so eerlik as wat ek hoop die afgelope twee jaar ons hopelik gemaak het, haal gerus jou masker af. Ek wil jou sien – nés jy is.
* Na twee jaar in asiel, is Kantlyn /Margin terug op die brieweblad. Maak gerus met die skrywer kontak by cornelle@groupeditors. co.za