Dis ‘n stopwoord. Of is dit ‘n start-woord? Hoe dit ookal sy, dit behoort ‘n aankopingspunt te wees wat iemand laat voel of die vraer sopas die welkommatjie uitgegooi het.
“Mevrou, ‘n mens moet met opregtheid vra as jy verneem hoe dit met mense gaan. Dis deesdae nie meer die ligtelike ding wat dit voorheen was nie. Dit maak meer saak as ooit tevore.”
Ek geniet die ouer mense met wie ek danksy my werk te doene kry. ‘n Mens leer altyd iets waardevols so in die vertoewe. Dis ‘n ware woord wat Mnr X praat. Ons vra nie eintlik opreg nie, want ons wil nie eintlik hoor nie.
In Oktober 2019, ry ‘n jong ma met haar twee kleuters oor ‘n afgrond die see in op Heroldsbaai. Dit gons landwyd oor wat presies tot die onverklaarbare, skokkende gebeure kon gelei het. Die vrou se man word van oraloor geroskam en selfs van gemene spel verdink. Toe ‘n ander vrou in sy lewe verskyn, toe is die gort nou eers gaar.
In Januarie 2021, gebeur iets soortgelyks. Nog ‘n jong ma jaag oor die afgrond met haar twee kinders. Die minderjarige seun oorleef nadat hy daarin slaag om uit die voertuig te kom. Maar wat die skade aan sy psige betref na dié trauma, kan ons ook maar net wonder hoe die lewe verder vir hom sal verloop. Sy peutersussie se liggaampie word twee weke later uit die see gehaal.
Die mensdom beleef opnuut sekondêre trauma gedagtig aan Oktober 2019 se ramp en dié plek kry die naam “afgrond van die dood”.
Toe twee tannies, beide 75 in Februarie óók oor die afgrond gaan, amper soos die slottoneel uit die fliek Thelma & Louise, blyk dit of desensitering ingetree het. Hoewel die storie so half in onbelang weggesypel het (want hulle is darem al van jare), vra min mense te veel vrae oor dié twee wat skynbaar uit Gauteng na “hulle einde” gereis het en waarom daar boonop ‘n vuurwapen saamgeneem is op hulle fatale rit.
Ons vra nie, want ons wil nie eintlik hoor nie.
Sedert 2016 is 8 voertuie willens en wetens oor daardie afgrond na die dood benede.
Verlede jaar êrens vertel ‘n huisarts my dat dié met emosionele stoornisse, onder die huidige omstandighede, nóg swaarder kry. Boonop het dié wat dit nooit gehad het nie, dit intussen ontwikkel. Sedertdien, het die mensdom ‘n hele paar ekstra houe gevat. Lewensverlies vanweë Covid-19, raak-raak in Suid-Afrika aan die 81 000.
Ja, ja almal verkondig slimmighede dat meer sterf aan ander siektes. Hoe dit ookal sy, die pyn lê nie soseer by die byna 81 000 nie. Dit moet bereken word deur ‘n maalsom te maak wat elkeen van die byna 81 000 se kennisse, kollegas, vriende en familie insluit om die ware verlies te besef.
Voor mý geestesoog, vorm dit ‘n leerskare in rousmart.
Dis die gees van ons tyd. Daardie gees van goetemejou* wat eintlik maar ‘n retoriese vraag bly.
September is selfdoodvoorkoming-bewusmakingsmaand.
Maak dus seker ás jy vra, dat jy wíl hoor. Dit mag dalk deurslaggewend wees.
* Goetemejou is ‘n samestelling van die woorde “goed en met jou?”. Veral gewild onder Afrikaners wanneer hulle mekaar groet.
South African Depression and Anxiety Group (SADAG) beveel die volgende nommers aan:
Dr Reddy's Help Line
0800 21 22 23
Cipla 24hr Mental Health Helpline
0800 456 789
Pharmadynamics Police &Trauma Line
0800 20 50 26
Adcock Ingram Depression and Anxiety Helpline
0800 70 80 90
ADHD Helpline
0800 55 44 33
Department of Social Development Substance Abuse Line 24hr helpline
0800 12 13 14
SMS 32312
Suicide Crisis Line
0800 567 567
SADAG Mental Health Line
011 234 4837
Akeso Psychiatric Response Unit 24 Hour
0861 435 787
Cipla Whatsapp Chat Line
(9am-4pm, 7 days a week)
076 882 2775
24 hour Healthcare Workers Care Network Helpline
0800 21 21 21
SMS 43001
NPOWERSA Helpline
0800 515 515
SMS 43010