Dis 05:00. My skootrekenaar se leë skerm staar my in afwagting aan. Die wyserstrepie flits geïrriteerd soos ‘n klein vingertjie aanmanend, wagtend vir die letters om oor die blad te begin skuif.
"Bestorm die wit bladsy," hoor ek weer prof Bernard Odendaal se stem tydens ‘n ATKV Skryfskool jare gelede. Om te bestorm begin by ‘n besluit, dikwels ‘n moedige een. Soos om soms jou hárt en ander kere jou kóp te volg.
Ek het nie sommer net ingestap in die joernalistiek nie. Inteendeel, dit was meer ‘n kwessie van third time lucky. Kwalifikasies ten spyt, het ek eers na die derde probeerslag my Afrikaans-onnie, mnr Siegfried Muller se vooruitskouing van my lewe by die Mossel Bay Advertiser kom vervul.
In standerd 4 het hy in my stelwerkboekie geskryf: “Moet nooit ophou skryf nie. Jy gaan nog eendag jou brood en botter, só verdien.”
Wat mnr Muller dalk nie geweet het nie, is dat om te skryf een van die vyf goed in my handvol drome was wat ek as moontlike loopbane wou najaag. Saam met skryf, wou ek verhoog toe of kansel toe, ‘n sielkundige wees of die staatspresident word.
Maar skryf, nes mnr Muller voorspel het, was nie net ‘n towertapyt van stories wat my op talle reise van die ordinêre tot die buitengewone geneem het nie, dit het ‘n sleutel geword om ander deure ook oop te sluit.
Op 1 Julie was ek 11 jaar ‘n gemeenskapsjoernalis. Ek het ‘n prentjie probeer vorm van hoeveel woorde ek die afgelope dekade en ‘n bietjie moes geskryf het. Daardie prentjie, reken ek, is die betaalstrokie van my multifokale bril wat ek week gelede vir die eerste keer opgesit het.
Dié 11 jaar het van die mees unieke ervarings van my lewe opgelewer en dalk, sou ek nou moes vergelyk met wat ander as magic beskryf, sou die genot wat ek uit my werk geput het dalk vir hulle ‘n belaglike misterie wees. Daar word nie verniet gesê dat ander se boeke duister is om te lees nie. Dalk het dit maar te doene met ‘n ingesteldheid wat spruit uit my Karoo-ouma se lewensuitkyk, dat daar iets goeds in alles en almal steek.
Maar hoe dit ookal sy, in die kolomspasie van die Advertiser en daarbuite, kon ek tog woeker met my handvol drome. Veral hier in die “kantlyn”. Inteendeel, toe ek as afgestuurde die dag met my honneursgraad in die hand staan, was die sterre in my oë die verwagting om ‘n rubriekskrywer te wees.
Fast forward sestien jaar later en third time lucky…
Vir 11 jaar het saktyd week in en week uit die sweep geklap. Tussen die stories wat egter die koerant en later die aanlynnuus gehaal het, is daar ‘n legio staaltjies en stories en in alle eerlikheid, sonder om eksklusiwiteit te pleit, verstaan net koerantmense presies hoe bisarre die wêreld van nuus kan wees.
Soos ek hierdie wit bladsy bestorm het, is dit tyd vir my om ‘n nuwe skryfboek met skoon bladsye oop te maak. Tyd om te groet. Ja daar is ‘n sakdoek – vir trane afvee én vir wuif, soos dit ‘n effe teatrale dame soos ek met ‘n handvol drome betaam.
My parting wish? Hou maar ‘n R5 uit vir die Advertiser op ‘n Vrydag toe?
Dis nou 06:30. Die drukpers grom vir oulaas soos ‘n honger straathond.
Goue lint, my storie begint.