Ek kom laatmiddag tuis met sakke vol kruideniersware vir die bloktyd wat voorlê. My ouma het altyd gesê haar seuns was hol tot in hulle knieë. Sy het verwys na hulle as groeiende jong mans, oftewel tieners, hoewel die benaming destyds sekerlik nie bestaan het nie.
Hoewel die ganse wêreld sedertdien op sy kop loop staan het, het sommige goed dieselfde gebly. Toe ek 'n groeiende kind was, het ek my telkemale verstom aan hoe baie my broer, iemand van gemiddelde grootte kan eet en die ongelooflike onsmaaklikheid wat ons moes deurmaak wanneer hy honger was. Vandag verander my eie kind, die voorbeeld van goeie manière en hoflikheid, kompleet in 'n buiteruimtelike reeksmoordenaar as die honger hom onkant vang.
Ieder geval, toe ek nou een Vrydagmiddag met die broodnodige tuiskom, lyk die klong of hy rieldans. Sy mond gaan oop en toe, maar g'n woord kry hy uit nie. Ek wil-wil dink die kind het 'n fit van die hongerte, toe hy eindelik skree: "Stranger Things!"
Stranger Things is 'n wetenskapfiskie griller op Netflix wat ek, saam met derduisende vraatkykers wêreldwyd geniet. Nie soseer oor die slymerige monsters en die jump scare-oomblikke nie, maar omdat die musiek, stelinkleding, kostumering en ander fynere detail my so terugvat na die tagtigs – my grootwordjare.
Selfs die boelies, is dieselfde. Ook die handvol karakters in Stranger Things, is soos ek was, 'n klomp randeiers - deel van die ovaal van die aweregses.
Toe ek nou die dag die eerste episode van seisoen 4 van Stranger Things kyk, toe is ek weer in standerd 4 en uitgelewer aan die genade van *Karin Jooste en kie. Nes die mislike meisie in Stranger Things, was Karin te groot vir haar skoene en haar hare ook so opgeklits aan die kuifkant. Haar volgelinge, die sogenaamde Sonskynsusters, was immer daar om haar na die mond te praat.
Een insident waaroor ek tot nog toe nagmerries kry, is die keer met haar twaalfde verjaarsdag. Toe ek die uitnodiging kry, moes ek al lont geruik het. Maar teen my beter wete, aanvaar ek dit. Vir die geleentheid, bederf my ma my met 'n nuwe uitrusting.
Op die parytjiedag is Karin en kie katvriendelik. Dis 'n warm Augustusdag en ons wyk buitentoe. Met 'n grynslag stel Karin voor ons speel wegkruipertjie. Almal stem met oorgawe in. Ek wonder nogal of ons darem nie 'n bietjie groot is vir wegkruipertjie speel nie, maar ek doen maar mee.
Ek soek vir my 'n spogwegkruipplek uit. En ek wag. En wag. En wag. En wag.
Dit was toe allermins 'n speletjie. Die groep het die huis se deure gesluit en my bloot buite gelos. Toe ek deur die venster loer waar die spulletjie om die verjaarsdagkoek rinkink, vang ek Karin se oog. Sy begin lag, daardie lelike, honende lag waarvan ek my seun toe hy klein was al geleer het. Sy roep na die ander en sy wys na my met haar vinger. Almal lag. Ek het omgedraai en huis toe gestap.
In die onlangse verlede kry ek 'n vriendskapversoek op Facebook. Van 'n ene Karin Cronjé (née Jooste).
En ek dink, 'n jakkals verander van hare, maar nie van snare. Ek speel wegkruipertjie en sy kan maar aanhou soek. Dié keer, laat ek my nie vang nie.
* Skuilnaam. Vertel gerus van jou boelie. Stuur e-pos na cornelle@groupeditors.co.za