Ek lees op verskillende platforms dat ons nooit weer na "normaal" gaan terugkeer nie, dat daar 'n "nuwe normaal" kom. Die vraag is, wat is normaal? Ek het grootgeword in 'n "normale" land en skielik kom 1994 en toe is niks meer "normaal" nie.
Uit wie se perspektief is die normaliteit wat ons so aanhang?
Is absolute vooruitgang en winsbejag normaal en beteken dit dus dat dit nou abnormaal is om reuse-ekonomiese uitdagings in die oë te staar? In Amerika besluit 'n polisieman om vir nege minute met sy knie op 'n geboeide man se nek te kniel totdat hy ophou asemhaal, want dit is normaal om mense wat opstandig is met geweld te onderdruk.
'n President gebruik Twitter om te vertel hoe veilig hy in sy goed bewaakte wit paleis is omdat wapens en honde die betogers twee keer sal laat dink om oor die heining te klim, maar dit is sy "normaal".
Ek het jare gelede 'n kunswerk van 'n bekende grafiese kunstenaar gesien. Op die voorgrond was 'n ouer man wat aan die lippe van 'n jonger man raak en in die agtergrond was alles onderstebo.
Sy verduideliking van die kunswerk was dat dit sy aanvaarding van homself uitbeeld.
Hy is gay en het 'n ernstige spraakgebrek. Iets wat hom deur 'n "normale" samelewing as "abnormaal" laat beskou word. Maar, vir hom is hy normaal en die res van die wêreld is abnormaal, daarom beeld hy die agtergrond onderstebo uit.
Vir sommige mense is sommige optredes heeltemal normaal, mits dit hulle verwysingsraamwerk ondersteun. In hierdie vreemde tyd is elke situasie waarmee ons gekonfronteer word anders as waaraan ons gewoond is, maar is dit noodwendig abnormaal? Verwar ons nie dalk "normaal" met "gemaklik" nie?
Ek is byvoorbeeld glad nie 'n Trump-ondersteuner nie, dus gaan dit vir my redelik moeilik wees om iets in sy optrede te sien wat sinvol is, en vir elke argument wat aanvoer - hy is 'n goeie leier sal ek 'n teenargument vind. Vir my is sy boelie-leierskap nie "normaal" nie, maar vir die volgende persoon is dit absoluut normaal. Dit is hoe ons funksioneer en ons eie persepsies is dikwels die bakens wat ons gebruik om normaliteit te omskryf.
Persoonlik dink ek nie daar is 'n "normaal" nie, daar is bloot persepsies van normaal en ons moet telkens, soos nou die geval is, ons persepsies hersien en aanpas.