Die winkels hang vol Krismisgoed. Dis nie anders as in vorige jare dat die blinkgoed van middel-Oktober op die rakke verskyn nie. Maar die vet weet – vanjaar klop die berekening van hoe ons van Februarie se feestyd tot in amper Kerstyd gesnel het net nie.
Dis soos wanneer jy ‘n vollengte rok maak en net-net daardie stukkie lap kort om dit op die enkels te laat hang. Dink ‘n slim, kreatiewe plan uit soos om ‘n pragtige stukkie kant onderaan te heg, maar dit werk eenvoudig nie. Of liewer, die doel heilige seker die middele, maar daardie lasplek is verdoemend. Dit wys eintlik die fout uit.
So is 2020 op ‘n manier ‘n gelapte jaar. Dis die jaar waaroor almal behoorlik sterre in die oë gehad het. 2020 – die toonbeeld van perfekte visie. Die mensdom het asem opgehou oor wat die jaar vir ons sou oplewer. Ironies genoeg het die jaar se groot gatslag, Covid-19, die wêreld na sy asem laat snak vir al die verkeerde redes.
Ek wil gou teruggaan na daar waar die rok om die enkels begin tekort skiet het, ter wille van my argument. Vroeg Februarie is mos feestyd op Mosselbaai. Dis wanneer die dorpsmense weer die strate en gunstelingplekke terugneem ná die seisoentyd wanneer al wat leef en beef [en asem het] soos miere agter soetigheid aan, op ons toesak.
Die Diasfees is ‘n lekkerte waaraan ek nou al ‘n paar jaar as programleier deel het. Dis lang ure, mikrofoon in die hand en klokslag is daardie naweek, die warmste in die jaar. Vanjaar moes ons seker aangevoel het daar is iets buitengewoons aan die kom, toe die Saterdagaand se laataand afspraak met Die Heuwels Fantasties uitreën. En nie net ‘n lekker ou Kaapse somerreëntjie nie. ‘n Wafferse storm met ongekende donderweer en blitse.
Gewoonlik het ons handjievol programleiers, klankmanne en verhoogbestuurders nogal pret agter die skerms. Ek moet bieg, toe die Chinese kultuurgroep vanjaar moet optree, is daar tipies aan ons eg Suid-Afrikaanse humor, goed die draak gesteek. Daar was selfs ‘n spottery oor lootjies trek wie die groep op die verhoog sou neem. Dit sou veroorsaak dat die “gelukkige wenners” digby die groep sou moes staan in die smal ingang na die verhoog terwyl sosiale afstand toe reeds bekend was as ‘n belangrike teenvoeter vir die verspreiding van Covid-19.
Jou beurt is egter jou beurt. En dit was myne. Toe ons so op die trappies staan en ek die groep se bestuurder mnr Wu* vra wat hulle program behels, sê hy ewe verskonend: “Today, we do Lion Dance. We cannot do Dragon Dance. Some dancers are stuck in China, you know - the virus.”
Ek dink aan iets toepasliks om te sê en nie te lyk of ek probeer om ‘n bietjie afstand tussen ons te skep nie. Ek onthou boonop dat ek ‘n mikrofoon met hom moet deel. Terwyl ek staan en dink waarmee ek die mikrofoon dalk kan afvee soos dit hande wissel tussen my en mnr Wu, simpatiseer ek met hom oor die toestande in China, gedagtig dat hy dalk familie en vriende daar het al woon hy jare reeds in Kaapstad.
“No, no, no. You no worry. Two week, only two week. Then the virus over in China.”
Dis toe nie heeltemal twee weke gewees nie, maar naby genoeg. En hier ter plaatse, is dit al amper nege maande later en Covid-19 het seker gemaak dat ons mnr Wu en sy geselskap nie by die Diasfees 2021 sal kan verwelkom nie.
"Van 20plenty na 20trauma..." Ek was skoon ergerlik toe ek vandeesweek dié radio-advertensie hoor. Ja-nee, dink ek so in my enigheid. 2020 was swanger met verwagting, maar is toe uiteindelik kompleet soos die gesegde lui - die berg het 'n muis gebaar.
Dis amper Krismis. Amper tyd om weer vooruitsigte vir 2021 te formuleer. Maar ek dink ek staan af vanjaar. Ek vat dit maar soos dit kom. Want toekomsplanne het nie die geldterugwaarborg nie. Dit het 2020 met sy gelapte soom bewys.