MOSSELBAAI NUUS - Om 'n 67,8kg kabeljou binne drie minute te land, sit nie in enige visserman se lyf nie.
Vir Marco van der Bank, inwoner van Heiderand en 23 jaar in die kommersiële visbedryf, is dit maar net 'n deel van sy daaglikse roetine om kos op die tafel vir sy gesin te sit.
As gesoute visserman het hy Sondag, 9 Januarie soos hy gereeld doen, sy boot, Spindrift ter water gelaat en saam met sy span het hulle gaan soek vir vis. Voor Klein-Brakrivier op 'n diepte van 11m tref die gelukslag hom en land hy die pragtige kabeljou.
Wat die vis buiten sy gewig so besonders maak, is dat hy met 'n handlyn, vingerhoedjie, 'n makriel aan die hoek en 'n 75kg-breekkrag lyn gevang is.
"'n Mens vang baie meer vis in die tyd wat die vis loop met die handlyn as met 'n visstok en katrol," vertel Van der Bank.
Hy stem saam dat strand- en rotshengel deesdae baie swak is en hy en sy span moet maar gereeld ook reis van kus tot kus om op ander plekke te gaan vang, op die boot natuurlik.
"Dit is 'n harde bedryf, maar ek geniet my werk," sê hy.
Marco van der Bank by die monster van 'n kabeljou wat die skaal op 67,8kg getrek het. Dit het hom drie minute met 'n handlyn geneem het om die vis op die boot te kry.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'