Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Dit gebeur nie aldag dat mens ‘n monster van ‘n vis vang nie en ek deel graag my storie met die lesers van die Mossel Bay Advertiser.
Op die 1ste April (en dit is nie 'n April-gekkedag storie nie) het ons gesin by Hartenbos gaan visvang. By aankoms het ons alles voorberei en teen 08:00 was die aas (heel geelstert) in die see, gereed vir die groot byt.
Alhoewel die weer perfek was en die water helderblou, het die bloublasies dinge baie moeilik gemaak. Om 11:15 het die katrol gehardloop en ek moes vining spring.
Ek het dadelik besef die is ‘n kolossale vis aan die hoek en ‘n uur later het die vis nog sterk baklei teen uitkom. Vyf ure later het my vingers en hande erg gekramp maar nie ek of die vis was gereed vir opgee nie en toutrek was deel van die geveg; hoe meer ek die lyn in katrol hoe meer swem die vis terug diepsee toe.
Net links van ons was ‘n groot waterpyp wat 10m op sementpilare in die see in inloop en teen 16:00 die middag was die gety hoog.
Ek het gedink dat ek die vis kan inbring saam met die gety maar dit was nie so maklik nie.
Na nog twee ure het die vis besluit om regs te swem en ek moes noodgedwonge saam met die vis beweeg. Dit sou beteken dat ek voor om die waterpyp moes swem om te verhoed dat die lyn teen die pyp afsny.
Dit klink dalk nie te erg nie maar saam met die diepwater moes ek die bloublasies se brand ook trotseer, maar ek was vasberade om nie die vis te laat gaan na soveel ure nie.
Teen dié tyd was ek en die vis al vir sewe ure besig en die son was al besig om te sak.
Wayne moes noodgedwonge saam met die vis beweeg en om die waterpyp swem om te verhoed dat die lyn teen die pyp afsny. Hier word hy deur Adrian du Plooy, wat ook daar visgevang het, en Luan Janse van Rensburg (Wian se nefie) ondersteun. Adrian moes ongelukkig kort hierna huis toe gaan en kon nie tot op die einde wag nie.
Ek het besef dat ek nie die vis alleen gaan uittrek nie en het ‘n vriend van Mosselbaai gebel. Hy was ongelukkig uitstedig en het vir Brian Fuchs gestuur om my te kom help.
Brian was binne 30 minute daar en het dadelik gesê dit is ‘n groot Duckbill of Swart pylstert. Na nog ‘n uur was dit donker en ons het besluit om die koffiemeul-katrol se rat vas te draai.
Ek het so hard as moontlik getrek en die lyn stadig maar seker ingekatrol.
Na ongeveer agt en half ure het ons die vis uiteindelik uitgekry. Dit was ‘n skouspelagtige prentjie toe ons die pragtige vis in die vlak branders gewaar het.
Dit was ‘n monster van ‘n vis, ‘n Swart pylstert.
Brian het die leader aan die punt van die lyn afgesny en met ‘n groot gesukkel onder die vis se maag ingeryg om sy wydte te meet. Van punt tot punt het die pylstert se vlerk net verby 220cm gemeet.
Ek skat die vis se gewig tussen 290kg en 320kg. Wat ‘n ongelooflike dag! Nadat ons genoeg foto's geneem het, het ons seker gemaak dat die pylstert veilig terug is in die see.
Die foto's vertel die res van die storie.
Artikel: Die hengelaar en storieverteller is Wayne van der Merwe en sy vrou, Alida, die fotograaf.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'