Gallery
MOSSELBAAI RUGBYNUUS - Net toe die vertoning deur die Springbokrugbyspan die afgelope naweek Suid-Afrikaners weer rede gegee het om te pronk, het 'n wedstryd nader aan eie bodem menige Suid-Kapenaar hul koppe in skaamte laat sak.
Soveel van swak sportmanskap is lanklaas hier opgedis, meen van die toeskouers.
Wat 'n klubwedstryd in Albertinia tussen die eerste spanne van Mosselbaai Helitec Club en Albertinia Rangers moes wees, het binne die eerste sewe minute van die spel in 'n onaangename bakleiery ontaard waaraan selfs die toeskouers skynbaar lustig deelgeneem het.
Dit blyk volgens ooggetuies dat die bakleiery gevolg het nadat twee spelers van die onderskeie spanne mekaar met die bal gegooi het. Een van Albertinia Rangers se spelers het die petalje opgemerk en het aggressief daarop reageer, waarna 'n bakleiery skynbaar gevolg het. Gemoedere het daarna effens gekalmeer, totdat 'n Rangers-speler, sonder enige opsigtelike rede 'n Mosselbaai-speler van agter ingehardloop en weer begin slaan het. Toe het spel geheel in 'n geveg ontaard met selfs toeskouers wat Mosselbaai-spelers deur die heining geskop het.
Mosselbaai se span het besluit om die veld te verlaat omdat van goeie rugby geen sprake was nie. Hierdie optrede is deur die volle Rangers-span toegejuig toe hulle 'n sirkel gevorm het en begin hande klap het.
Daarna het hulle op hul knieë afgesak en - gebid.
Van die toeskouers het openlik bespiegel dat die bakleiery niks anders as 'n Rangers-strategie was nie, want Mosselbaai het die volle vyf punte afgestaan.
Rugby-liefhebbers sê hulle sou graag 'n indringende ondersoek na die dag se gebeure wou sien aangesien sportmangees - en die spel van rugby - sleg tweede gekom het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'