MOSSELBAAI NUUS - Om te kan goed doen aan ander is 'n hartsgesindheid wat die Black Warriors-rugbyklub se lede met oorgawe aangegryp het. In hierdie onseker tye in die midde van die Covid-19-pandemie, het hulle besluit om hul tyd te offer en te help waar nodig.
Stay Safe was die slagspreuk van die groep waarmee hulle dan hul gemeenskap tydens Mandela Dag 18 Julie 2020 in Herbertsdale gedien het.
Die dag het verskeie projekte ingesluit.
Eers is Tant Mien, wie se huis afgebrand het skoongemaak en gerestoureer. Hierna het hulle deelgeneem aan die Covid-19 Stay Safe-veldtog waartydens die gemeenskap ingelig is oor die belangrikheid aarvan om maskers te dra, hande te ontsmet en 'n veilige afstand van ander te hou.
Die plaaslike Anglikaanse Kerk se vroue in samewerking met vader Willie, Charmaine Oktober en Grizelda Duitsjan het tydens die veldtog aan die gemeenskap heerlike sop verskaf wat bedien is saam met broodtjies wat tannie Tillie Arendse geskenk het.
Black Warriors-rugbyspelers hier saam met lede van die gemeenskap van Herbertsdale.
Die Herbertsdale Aksie-kommitee het soos altyd nie weggeskram om diensbaar te wees nie. Hulle het gestremdes bederf met eenderse T-hemde waarop hul vreeslik trots was.
Die projek word gekoördineer deur Nadia Julies en Stanley Kiewiet, die voorsitter van Black Warriors-rugbyklub.
Almal wat 'n bydrae gelewer het om hierdie besonderse dag suksesvol te maak is van harte bedank.
Een van die rugbyspelers maak die vensterrame skoon van tannie Mien se huis wat nou onlangs afgebrand het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'