MOSSELBAAI RUGBY-NUUS - In 'n toetsrugby-atmosfeer het die vreugdevure hoog gevlam in die Progress-rugbykamp nadat hul vir Barbarians van Mosselbaai in die Groot-Uitdaagbeker finaal in 'n naelbytstryd met 14-10 geklop het.
Progress, wat vanjaar 14 van hul 17 wedstryde gewen het in die kompetisie en bo-aan die punteleer geëindig het met 73 punte en 'n punteverskil van (+313) het verdien om dié wedstryd te wen. Hul het ook die bordjies verhang nadat hul vroeër die seisoen in 'n groepwedstryd deur Barbarians op die Rosemoor-sportterrein met 19-17 geklop is.
Die bulspan van Progress het ook verlede jaar die kompetisie gewen toe hul vir Evergreens met 24-15 geklop het. Hulle gaan nou SWD verteenwoordig in die kompeterende Goue Beker-rubykompetisie van SARU wat in Maart 2019 afskop.
Die skeidsregter, Francois Davids, het hom goed van sy taak gekwyt en nie gehuiwer om vir Jonathan Simons (flank van Progress) en Shane Olckers (slot van Barbarians) met geelkaarte van die veld te stuur nadat die humeure in die eerste helfte van die wedstryd opgevlam het nie. Die passie en opwinding van die 10 000 toeskouers het die spelers aangemoedig om hul lywe op die spel te plaas en aanskoulike hardlooprugby was aan die orde van die dag.
Barbarians het in die 38ste minuut eerste bloed geruik toe hul loskopstut, Vivian Groenewald, oor is vir 'n drie. Macdelin Saayman (losskakel) het dit verdoel en Barbarians was rustyd met 7-6 voor.
Macdelin Saayman gee die bal vinnig uit met Jade Roelofse van Progress langs hom.
Progress se plaasvervangersbank, Wendell Pondo, Xavier Scholtz, Bredni Bestenbier, Shaun Raubenheimer, Cameron Lentoor en Werner Jacobs het na rustyd die groot verskil gemaak.
Die wenspan se spoedvraat, die 24-jarige Fizel Fredericks (linkervleuel), het in die 65ste minuut sy span se wendrie gedruk. Fredericks, wat vanjaar die voorste driedrukker in die kompetisie was, se spoed en rotsvaste verdediging het vir die manne van Mosselbaai hoofbrekens gegee.
Progress se kookwater flank, Jonathan Simons, was ongetwyfeld die beste speler op die veld. Hy het met sy kragtige dryfwerk, spoed na die afbreekpunte en puik verdediging sy teenstanders ontsenu.
Die oud-leerder van Hoërskool Outeniqua en 20-jarige agtsteman, Luvuyo Ndevo, Chemani Kema (flank), Justin Levendal (slot) Brianton Booysen (haker) en Hendrik Kriek (loskopstut) het ook voorlangs 'n barshou gespeel vir die wenspan.
Agter die skrum het Mzoxolo Dyantyi (skrumskakel en kaptein) 'n kapteinsbeurt gespeel. Sy taktiese skoppies, vlymskerp breekslae en goeie samespel met sy voor- en agterspelers was uit die boonste rakke. Die oud-Arend, Clinton Wagman (regtervleuel), het met sy spoed en verdediging die oog gevang. Luzane Williams (heelagter) en die senterpaar, Ethan Williams en Carlton Dee Coeries het in die aanval en verdediging geskitter.
Barbarians se grootste probleem was dat hul betroubare skoppers na die pale hul skopskoene op Mosselbaai vergeet het. Hulle het met ses strafskoppe na die pale verbrou wat hul span duur te staan gekom het. Hul agterste driehoek, vleuels Justin Bhana, Curshwon Mono en Wahlon Anthony het die groot skare op hul voete gehad met hul spoed en voorgevoel vir die spel. Kervin Taute (binnesenter), Morné Buis (skrumskakel), Aden Jones (agtsteman), Danny Amsterdam (flank), Winston Seconds (slot) en Jose Cunha (vaskopstut) het ook 'n barshou gespeel.
Barbarians se skrumskakel, Morné Buis kry die bal vinnig weg.
Die president van SWD Rugby Hennie Baardman en sy bestuurspan verdien 'n pluimpie vir een van die beste klubfinale in jare. Die dag was 'n reuse sukses.
Uitslae en puntemakers van eerste, tweede en derde spanne in Premierligafinale:
Progress I (14): Drie - Fizell Fredericks. Jade Roelfse (losskakel) slaag met drie strafdoele.
Barbarians I (10): Drie - Vivian Groenewald (loskopstut). Macdelin Saayman (losskakel) slaag met die doelskop en klits ook 'n skepdoel oor.
Progress II (46): Drieë - Bradley Pietersen (heelagter), Nigel Theron (agtsteman), Gladwell Jaftha (losskakel), Pieter Mekellie (regtervleuel), Joshua Mabaso (linkervleuel, 2), Ronaldo Fortuin (buitesenter). Jayden Fredericks (skrumskakel) slaag met vier doelskoppe en 'n strafdoel.
Barbarians II (26): Drieë - Zane Gelderbloem (binnesenter), Marthinus Adonis (flank), Llewellyn Adams (linkervleuel), Jonathan Otto (plaasvervanger linkervleuel). Luaan James (losskakel) slaag met drie doelskoppe.
Morné Buis kry die bal vinnig uit 'n losskrum uit. Foto's: Anton Gericke
Barbarians III (31): Drieë - Hegan Jansen (buitesenter), Randall Otto (linkervleuel), Denver Jacobs (flank), Wayne Londen (agtsteman). Devan Karelse (losskakel) slaag met vier doelskoppe en 'n strafdoel.
Evergreens III (20): Drieë - Brendon Damons (regtervleuel), Curtley Carelse (haker), Yanick Sparks (skrumskakel). Colyn Hoogbaard (heelagter) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'