RUGBY NUUS - Die derby Saterdag op Outeniquapark tussen Evergreens van Pacaltsdorp en Progress van Rosemoor, het beslis nie teleurgestel nie. Evergreens het Progress met 24 - 22 geklop, maar kon nie 'n bonuspunt kry nie.
Rugbyliefhebbers kon glad nie Progress identifiseer as die agtste geplaasde span op die punteleer nie, maar hulle het beslis opgedaag.
Evergreens het amper weggehardloop met die telling wat op een stadium 24 - 8 was. Progress het egter met twee pragdrieë teruggeveg en die telling na 24 - 22 verklein. Evergreens het alles probeer, maar Progress het standgehou.
Dissipline aan die kant van Progress by die afbreekpunte het hulle gepootjie, en Evergreens het hierdie geleenthede benut deur twee strafskoppe deur die pale te skop.
Dit sal die eerste keer in ‘n dekade wees dat Progress nie deel sal wees van die uitspeelrondes nie. Evergreens het in die 2022-seisoen net-net die topvier misgeloop. Sal hulle hierdie seisoen die lot verander en die finale haal?
Ons sal moet afwag en sien. Een ding is seker, elke span in die topvyf het ‘n groot kans om hierdie jaar as kampioene gekroon te word. Die span met die meeste honger en dissipline sal uiteindelik bo uitkom.
'n Opwindende vier weke lê voor vir rugbyliefhebbers in die SWD. Die huidige kampioene, Crusaders, speel tans nie so dominantly as wat die rugbywêreld verwag het nie. Die span wat besig is om vir die komende Gold Cup-kompetisie voor te berei, het met 33 - 13 oor die sukkelende span van Crags Jaguars geseëvier.
Of dit aan die rotasiestelsel te danke is, of dat die mans in rooi hul beste wedstryd vir die jaar nog moet speel, sal tydens die jaarlikse uitspeelrondes duidelik word. Met 'n groot groep talentvolle en ervare spelers is dit belangrik om nie spelers te veel te belas met die oog op die moontlikheid van 'n eindstryd en die Gold Cup nie.
Hier moet afrigter Ricardo Beukes erkenning kry. Hy moet weekliks spelers roeteer om die nasionale klubkompetisie in ag te neem, maar alhoewel hulle wen, is dit nie altyd op die manier wat hy beoog nie.
Bridgton besef dat wen alleen nie genoeg is om 'n plek in die topvier te verseker nie. Hulle sal spanne meedoënloos moet oorrompel en 'n groot punteverskil moet vestig as hulle enigsins in Groot-Brak se nek wil blaas.
Dit is presies wat die mans in maroen gedoen het teen die Riversdal Blues hierdie naweek. Bridgton sal hulself egter in die voet skiet as hulle nie die telling, teen 'n span wat tans nie weerstand kan bied teen die topvyf spanne van die liga nie, verder kan uitbou nie. Bridgton het die wedstryd met 46 - 7 gewen, terwyl Blues slegs een keer agter die pale van Bridgton kon gaan kuier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’