Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die 30ste interskole tussen twee landbouskole, Oakdale en Boland, is onlangs gehou.
Groot getalle toeskouers het gedeel in die goeie gees en atmosfeer wat tydens die dag op Oakdale geheers het.
Die skoolgees en trots van leerders van beide skole was duidelik sigbaar tydens hul optrede op die pawiljoen en het ook gewys in die intensiteit van die leerders se spel.
Oakdale het 18 wedstryde tydens die dag gespeel en 12 hiervan gewen.
Dit was egter die o/19A-span se wedstryd wat sou bepaal of die Oakdalers hul tradisionele bulring kon maak. Afgesien van duisende toeskouers op die pawiljoen en om die veld, kon die hele Suid-Afrika dit ook op televisie dophou.
Na 'n baie goeie eerste helfte waar die Oakdalers met 14-3 voorgeloop het, was dit die Bolanders wat met krag groot druk op die Oakdalers toegepas het.
Met een minuut speeltyd oor is 'n strafskop aan Boland skuins voor die Oakdale-doelpale toegeken en dit was die Oakdalers wat in sak en as op hul knieë neergeval het.
Die losskakel van Boland het egter die skop gemis en die Oakdalers het die interskole gewen met 14-12.
Oakdale bedank die gemeenskap van Riversdal vir hul lojale ondersteuning.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'