Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Stilbaai se Seagulls het Saterdag, 29 Junie hul stertvere op Mosselbaai verloor toe die Mosselbaai-rugbyklub met twee oorwinnings geseëvier het. Die A-span het hulle met 36-21 getroef en die B-span het ook hul wedstryd met 27-17 gewen.
Die A-span speel hierdie seisoen kookwaterrugby en het nog net een wedstryd verloor.
Die span lê tans tweede op die SWD Presidentsliga ranglys met 38 punte na nege wedstryde.
Die voorlopers, Albertinia Rangers, het 39 punte.
Die A-span het van die begin af aggressief aangeval en teen halftyd was hulle reeds 21-0 voor.
Hulle het te gerus geword en toegelaat dat Seagulls terugkom in die wedstryd, maar Mosselbaai het op die ou einde tog gemaklik met die goeie telling van 36-21 geseëvier.
Albei spanne het goed gespeel, maar die twee manne wat Saterdag uitgeblink en verdien het om as speler van die wedstryd aangewys te word, is Xander Meyer (B-span) en Genuwhin (Theo) Hendricks (A-span).
Die manne het nie net Saterdag goeie rugby opgedis nie, daar was ook 'n geselligheid rondom die potjiekoskompetisie langs die veld en die gemeenskap het goeie ondersteuning gebied in 'n heerlike atmosfeer.
Die volgende tuiswedstryd is Saterdag, 13 Julie op die Van Riebeeck-stadion en dit vind plaas teen die manne van Albertinia Rangers, wat tans die voorlopers is. Dit beloof 'n harde wedstryd te wees en ondersteuners moet sorg dat hulle reeds vroeg daar is om 'n goeie sitplek te kry.
Maar Saterdag, 6 Julie lê eers voor. Dan ontmoet die Mosselbaaiers die Riversdal Blues in Riversdal. Die manne van albei spanne werk baie hard en met groot passie om gehalte rugby terug te bring Mosselbaai toe. B
aie dankie aan hoofafrigter John Cooper en hulpafrigter Danie van Langelaar onder wie se vaandels die spanne gedy.
Die vinnige vleuel van die A-span, Genuwhin (Theo) Hendricks, het gate deur sy teenstanders gehardloop en is dan ook as die speler van die wedstryd aangewys.
Xander Meyer, speler van die wedstryd (B-span) in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'