Gallery
SUID-KAAP NUUS - Die oud-Kwagga Leighton Eksteen (heelagter) van die SWD Arende kon Vrydagaand nie vir 'n beter 23ste verjaarsdaggeskenk gevra het nie toe hy die Valke op Outeniquapark gesink het nie.
Eksteen het in die 76ste minuut met 'n belangrike strafdoel geslaag wat die tuisspan laat seëvier het met 13-9. Die Arende het nou 12 punte op die punteleer. Hulle pak Saterdagmiddag die Welwitchias op die Hage Geingob-stadion in Windhoek.
Die tuisspan se dissipline het in die eerste helfte van die wedstryd baie te wense oorgelaat. Hulle het te veel foute gemaak, taktiese skopwerk was swak en te veel strafskoppe afgestaan in die nat omstandighede.
Die Arende het na rustyd vlam gevat. Hul pak voorspelers het beter saamgespeel en balhantering was ook heelwat beter.
Die wenspan se sterk regtervleuel, Marlo Weich, het in die 61ste minuut gaan druk na 'n puik breekslag deur Martin du Toit (losskakel en kaptein).
Die Arende se beste speler was hul haker, Kurt Haupt, wat in die 30ste minuut tydelik die veld moes verlaat het weens 'n bloedbesering aan die kop.
Haupt se skrumwerk, plettervatte en puik spel in die vastelos het baie druk op die besoekers geplaas. Hy is aangewys as speler van die wedstryd.
Cornell Hess (slot) en Jacques Vermaak (plaasvervanger-haker) het ook die oog gevang. Agterlangs was Du Toit, die senterpaar Marlou van Niekerk en Tyler Fisher, en Eksteen die wenspan se uitblinkers.
Rynard van As, hoofafrigter van die Arende, het gesê hy is baie trots met die wyse waarop hulle baklei het tot die einde en die veggees wat hul ten toon gestel het teen 'n baie goed afgerigte span. "Deur rustig te bly in druksituasies het ons die knoop deurgehak. Ons het min gebiedsvoordeel geniet, maar puik verdediging.
"Wat verblydend was, is dat ons punte aangeteken het wanneer ons binne hul gebied was."
Puntemakers
SWD Arende 13 (3): Drie – Marlo Weich (regtervleuel). Leighton Eksteen (heelagter) slaag met die doelskop en klits nog 2 strafdoele oor.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'