RUGBY NUUS - Hoërskool Outeniqua loop breë bors rond nadat twee van sy oudleerlinge, Duhan van der Merwe en Manie Libbok Sondag 10 September teen mekaar in 'n Wêreldbekerwedstryd gespeel het.
Duhan het vir Skotland uitgedraf en Manie vir die Springbokke.
Vir die Springbokke en Skotland was dit beide hul eerste wedstryde van die toernooi. Die Springbokke het uiteindelik 19 - 3 gewen.
Sover bekend was dit die eerste keer dat die twee teen mekaar gespeel het. Duhan en Manie het op skool in verskillende ouderdomsgroepe gespeel.
"Ons is baie trots op Duhan en Manie," het Piet Cloete, adjunkhoof: sport van die skool Dinsdag gesê. Cloete het beide spelers op skool afgerig en toe reeds gedink hulle sal dit ver bring.
"As die geleentheid hom voordoen sal Manie en Duhan na die toernooi na die skool genooi word."
Oscar van Oudtshoorn Dogs in Need het voor Sondag se wedstryd gewys wie hy ondersteun.
Dis nie die eerste keer dat Kwaggas spelers oplewer wat aan die toernooi deelneem nie. Warrick Gelant was deel van die Springbokgroep wat aan die vorige toernooi deelgeneem het. Die groep het die toernooi in Japan gewen. Na die toernooi het Gelant die skool besoek.
"Die Springbokke was op die dag die beter span," het Dulene van der Merwe, Duhan se ma Dinsdag gesê. Die Van der Merwes was Sondagaand vasgenael voor die televisie toe die wedstryd uit Frankryk uitgesaai is.
"Ons is baie trots op Duhan en sien uit na die res van die toernooi. Ons hoop hy kry weer kan om te speel."
Dulene van der Merwe, Duhan se ma met haar besondere trui. Hier is sy by Duhan se ouma en tannies voor Sondag se wedstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’