Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaaiers sal beslis nie gou die Blitsbokke se besoek vergeet nie, veral nie die jong klomp wat die voorreg gehad het om Maandagaand op uitnodiging saam met hierdie kampioenspan by Van Riebeeck-stadion te kon oefen nie.
Die Blitsbokke het verlede Vrydag, 6 Julie in Mosselbaai aangekom vir 'n oefenkamp ter voorbereiding van die sewesrugby se Wêreldbeker-toernooi wat volgende naweek in San Francisco plaasvind.
Die span het tuisgegaan by die Garden Court Hotel en by die Van Riebeeck-stadion publieke oefensessies gehad. Maandagaand, kon aanhangers na die Bravo Lounge by die Garden Route Casino gaan om die span te ontmoet. Foto's van die Blitsbokke by besienswaardighede en koffiedrinkplekke in Mosselbaai het ook hier en daar op sosiale media opgeduik.
Volgens Leslie Jackson, voormalige Springbok-sewesspeler wat tans die Back to Basics-akademie behartig, was dit 'n wonderlike geleentheid om die span in Mosselbaai te kon hê. Jackson bedryf die akademie sedert 2017 in Mosselbaai en hy word deur die Garden Route Casino as borg ondersteun.
Belowende jong spelers van Erika en Isalathiso Primêre Skole, asook Hartenbos Laerskool wat in Jackson se akademie is, het Maandagaand 'n sonderlinge ervaring gehad toe hulle saam met die Blitsbokke kon oefen. "Dit was 'n uiters waardevolle ervaring vir die jong spelers. Net om saam met die Blitsbokke te kon wees en te kon sien hoe heg hulle in spanverband is." Jackson meen ook dat die jong klomp beslis iets sou kon leer uit die spelers se fisieke voorkoms.
Kyk 'n video hieronder.
"Ek dink dit maak nogal 'n indruk om te kan sien dat dit nie noodwendig belangrik is om 'n groot ou te wees om 'n kampioen te kan wees nie." Volgens hom sal die jonges ook baie kon geleer het uit die Blitsbokke se bemeestering van basiese tegnieke soos balhantering en verdediging. "En hulle is topfiks," voeg hy by.
Volgens Jackson is die Blitsbokke se kanse om in San Francisco as die wêreldkampioene gekroon te word, baie goed. "Ek dink met die ondersteuning wat hulle nou hier in Mosselbaai gekry het, gaan hulle die geleentheid behoorlik aangryp." Jackson sê dat die span se nederigheid en toeganklikheid veral prysenswaardig is. "Die hele tyd wat hulle hier was, kon jy net sien dis spelers wat tussen die mense wil wees. Hulle was nooit te besig om te stop vir 'n foto of om 'n handtekening te gee nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'