Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Alle paaie het verlede Saterdag na die Rosemore-stadion in George gelei waar Progress en die Barbarians kragte gemeet het in hul eerste SWD Premierliga-verpligtinge.
Met die aanloop tot hierdie kragmeting was Progress die gunstelingspan om as oorwinnaars van die veld te stap.
Die Barbarians het egter sekere doemprofete verkeerd bewys en hierdie titaniese stryd voor ’n rekordskare met 21 - 20 gewen.
Die B-span het ook ’n regmerkie agter sy naam met ’n oorwinning van 28 - 18, terwyl Babaas se C-span ongelukkig met 13 - 12 vasgeval het.
Na afloop van die wedstryd het Naz Cupido, die hoofafrigter, gesê Progress het beslis met al hulle skietgoed gekom en was baie klinies. “Op hulle beurt was Babaas weer strategies en het hulle die strategie sover moontlik uitgevoer, wat vir ons vrugte afgewerp het.
"Die span het as eenheid goed saam gespeel, waarop ek as afrigter baie trots is. Natuurlik is daar ruimte vir verbetering. Ons sal definitief aandag gee aan ons vaste fasette om beter slaankrag aan ons agterlyn te gee. Ook ons dissipline moet opgeskerp word. Ek is vir eers tevrede met die wegwen, wat ’n stap in die regte rigting is.”
Soos verwag het beide spanne vanaf die afskop die groot skare met goeie aanvallende rugby getrakteer. Die tuisspan was eerste op die telbord, nadat die veteraan Erick Zana (loskakel) geslaag het met ’n strafskop 10 m binne die besoekers se halfgebied.
Kort daarna, in die 15de minuut, was dit egter Morne Mkwayi (haker) wat eerste vir Babaas oor die doellyn is ná ’n goeie rolmaalbeweging vanaf ’n lynstaan binne die kwartgebied van die tuisspan. Die Barbarians se ondersteuners was op hul voete.
Nie lank daarna nie was dit Barend Alexander (stut) wat met sy kenmerkende sololopie vanaf die tuisspan se kwartgebied sy pad doellyn toe oopgekloof het vir die mooiste drie van die dag.
VIDEO: Babaas se stut druk mooiste drie van die wedstryd
Video: Neville Prins
Dinge het nie goed gelyk vir die tuisspan nie - in die 32ste minuut het Wynandré Human (slot) vir die Babaas se derde drie oorgegaan ná ’n goeie rolmaalbeweging. Diep in die tweede helfte is ’n omstrede strafdrie egter aan Progress toegeken, wat die gaping kleiner gemaak het.
Met die telling op 21 - 13 in die guns van die Barbarians het die manne gaan water drink.
Die tuisspan het vroeg in die tweede helfte oorgegaan vir ’n drie, waarvan die doelskop oor was. Met slegs ’n punt se verskil in die telling het ’n oorwinning vir Progress gewink, want daar was nog meer as 20 minute se speeltyd oor. Met genoeg gebiedsvoordeel en ’n paar strafskoppe binne trefafstand moes hulle dié een deurgetrek het.
Die Barbarians, wat geen punte kon aanteken in die tweede helfte nie, verdien egter krediet vir hul rotsvaste verdediging. Hulle fiksheid het hier ’n deurslaggewende rol gespeel. Die Barbarians moes ook twee keer agter die doellyn gaan kuier het, maar afronding het ontbreek.
Hulle volgende wedstryd is hierdie naweek tuis teen George R.V.K. en beloof om goeie rugby op te lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’