RUGBY NUUS - Daar was groot opgewondenheid toe die SWD Arende verlede Vrydag, 16 Junie, per vliegtuig van George na Gauteng gevlieg het waar hulle die volgende dag in die Mzansi-eindstryd teen die Valke gespeel het.
Ongelukkig het hulle nie hoog genoeg gevlieg in die eindstryd nie en het die Valke hulle met 55 - 38 gewen.
Die Arende sit egter nie op moedverloor se vlakte nie en kyk reeds vorentoe. Hulle het moedig probeer in die eindstryd, maar die Valke was grotendeels in beheer van die wedstryd op hul tuisveld in die Barnard-stadion in Kempton Park.
Binne die eerste minute het dinge reeds vir die Arende verkeerd geloop toe hulle 'n blaps naby hul doellyn gemaak het. Die Valke het dit uitgebuit en 'n drie gedruk.
Teen rustyd was die Valke 31 - 14 voor en 'n Everest het vir die Arende gewag. In die laaste 10 minute het dinge verder vir die Arende skeefgeloop toe een van sy spelers 'n rooi kaart gekry het.
Kort voor die einde het Mpho Ntsane bietjie opwinding vir die Arende se ondersteuners gegee toe hy naby die hoekvlag oorgeduik het. Die koeël was egter toe reeds deur die kerk en die Valke is as die 2023 Mzansi-kampioene gekroon.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag 19 Junie geen verskonings vir sy span se nederlaag gesoek nie. Dit is bekend dat die beseringspook voor die wedstryd by van die Arende geloop het.
Moolman het gesê die Valke het opgedaag op die dag en die regte dinge gedoen. Hulle het hul geleenthede beter benut en hulle het verdien om te wen. Vir baie van die jong spelers in die Arende se geledere was dit 'n eerste eindstryd.
Die Arende se verdediging het hul ook in die steek gelaat. Volgens hom moet in gedagte gehou word dat die span beter presteer het as in hul vorige seisoen.
Een van die doelwitte die seisoen was om die beeld van die SWD Arende te verbeter. Daarin is geslaag. Die Arende sien uit na die eerste divisie van die Curriebekerreeks aanstaande seisoen. In die stadium is die toekoms van die Mzansi-reeks nie duidelik nie.
Moolman se kontrak is vir die volgende seisoen tot Julie verleng en hy sal dus die span in die Curriebekerreeks afrig.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het vroeër die week gesê hulle wou baie graag wen. "Niemand neem aan 'n kompetisie deel om tweede te kom nie."
In die geheel gesien is hy egter tevrede met die verloop van die seisoen. In die vorige seisoen het die span in 'n halfeindstryd uitgeval.
"Ons glo ons kan nog beter doen. Daar is 'n opwaartse kurwe en ons sien uit na die volgende seisoen."
Die SWD Arende se vrouespan het Saterdag 17 Junie in Potchefstroom die Luiperds se vrouespan met 49 - 12 geklop.
Die SWD Arende Vrydag 16 Junie voor hul vertrek van George na Gauteng. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’