RUGBY NUUS - Wanneer die SWD Arende aanstaande jaar in die eerste divisie van die Curriebekerreeks op die veld draf, sal die span grofgeskut kan inspan teen sy teenstanders.
Ofskoon die nuwe seisoen eers weer oor 'n paar maande hervat, woel dit reeds agter die skerms.
Verskeie nuwe kontrakte is reeds met spelers gesluit en met ander hernieu. Een van die spelers wat beslis ondersteuners opgewonde gaan maak is Janneman Stander, wat al in die verlede vir die Arende uitgedraf het en ook kaptein was.
Van die ander spelers is Marlo Welch, Adriaan van der Bank, Siya Nzuzo, Darryn Fortuin, Rosco Syster en Edwin Sass. Van der Bank is een van die nuwe aanwinste.
Hy is 'n losskakel en het 'n groot rol gespeel in die Universiteit van Stellenbosch (Maties) se sukses in die Varsity Cup. Hy was kaptein van die span toe hulle die beker in die verlede gewen het.
Die Arende het vanjaar derde in die eerste divisie klaargemaak en die rekordboeke wys dat die span 10 wedstryde in die 2022 reeks gespeel het, waarvan hulle ses gewen en vier verloor het.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Vrydag 30 September, kort voor die begin van die Jong Arende se wedstryd, die sluier gelig oor wat wag.
Hy word vir die nuwe seisoen weer deur Zane Kirchner, agterspelerafrigter en Clemen Lewis, voorspelerafrigter bygestaan.
Moolman het gesê SA Rugby se skedule vir aanstaande seisoen se reeks behoort binne die volgende paar weke beskikbaar te wees. Die Arende se eerste vriendskaplike wedstryd sal waarskynlik vroeg in Februarie wees.
Nabetragting van die afgelope seisoen is reeds gedoen en daar is gekyk na hoe die span versterk kan word. Die spanbestuur en spelers begin van 1 November saamtrek. Hulle sal dan as deel van die voorseisoen begin met voorbereidings. Dit sal dan aanhou tot 16 Desember waarna daar 'n ruskans sal wees voordat die spelers in die nuwe jaar weer in alle erns sal begin.
Die voorseisoen sal die spanbestuur en spelers geleentheid gee om te kyk na kondisionering en samehorigheid te bou. Daar sal veral gekyk word na die voorspeler spel.
Volgens Moolman het van die plaaslike spelers in die onlangse wedstryd teen die Stormers gewys waartoe hulle in staat is en met hulle is kontrakte gesluit.
Stander het gesê hy het laas in 2018 vir die Arende gespeel. Daardie jaar het die Arende die reeks in die eindstryd teen die Valke gewen.
Moolman het hom 'n paar weke gelede gekontak en wou hoor of hy belangstel om weer vir die span te speel. "Ek was eers verbaas. Ek het vir hom gesê ek mis die veld en ek wil terugkom. Ek hou van rugby. Dis in my bloed."
Hy is opgewonde en is vol moed dat as almal saamwerk kan die span aanstaande jaar weer die beker wen.
Fortuin het gesê hy het die eerste keer in 2021 vir die Arende gespeel en vanjaar het hy 'n kontrak gehad. In die verlede was hy ook in SWD se Cravenweekspan.
Hy is baie opgewonde om weer 'n kontrak te kry en te kan speel. Hy het baie geleer vanjaar. Fortuin glo die span kan beslis in 2023 in die eindstryd speel. Daar is 'n mengsel van ervaring en jeug in die groep.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'