MOSSELBAAI NUUS - Sogenaamde petrolkoppe se tone het behoorlik gekrul verlede naweek toe die immergewilde motorsport weer by De Bakke aangebied is. Gedurende vanjaar se Diasfees, het dié gewilde item nie op die vermaakspyskaart verskyn nie en uit vele oorde is te kenne gegee dat die brullende enjins en reuk van brandende rubber beslis gemis is.
Tydens 20 en 21 September, was De Bakke weer 'n groot trekpleister vir toeskouers wat die vreeslose jaers se vernuf wou gaan geniet.
Deelnemers het soos gewoonlik vanuit die Kaapstad-omgewing, asook Port Elizabeth en Uitenhage gereis om hulle ding te kom doen. Selfs van sover op teen die Weskus as Clanwilliam, het die entoesiaste met hulle warmgemaakte motors opgedaag.
Vanjaar het nagenoeg 70 motors aan die opwinding deelgeneem. In Mosselbaai word hierdie sport binne 'n wettige en veilige raamwerk aangebied, wat oor die jare heen tot die sukses en volhoubaarheid daarvan bygedra het.
"Het jy dít gesien?"
Dit gaan nie soveel oor die vashou, maar oor die "afshow".
Ry die yster tot hy luister. Foto's: Donovan Poole
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'