GOURITZMOND NUUS - Wessel van Dyk kon sy geluk Vrydagoggend, 8 Oktober nie glo toe hy 'n prag kabeljou van 50,65kg by Gouritzmond uit die rivier getrek het.
Van Dyk, die algemene voorman by Laerskool Park en ook 'n lid van die Mosselbaai Posduifklub, vertel dat hy, wanneer hy die kans kry, hengel geniet.
"Ek het Donderdagaand, 7 Oktober Gouritzmond toe gegaan, vroeg die aand reggemaak en lewendige aas gevang. Ek het dit dadelik aangesit en die groot stokke ingegooi, waarna die lang wag begin het. Toe die vis byt en met die lyn begin loop, was 01:38 dit. Ek het dadelik geweet hier is moeilikheid. In 'n stadium moes ek langs die rivier op om agter hom aan te loop, want my lyn het begin min raak en moes ek weer lyn wen." Van Dyk vertel dat die vis begin moeg word het, waarna hy dit weer met die rivier kon afbring.
"Die oomblik toe hy op die wal lê, het ek van moegheid gaan sit. Beide my arms was lam. Dit was toe 02:55."
Van Dyk sê dit was beslis die moeite werd en is baie trots op sy groot vangs.
Kobus van der Bank , 'n vriend van Wessel van Dyk hou die vis wat Van Dyk gevang het regop.
'Ons bring jou die nuutste Gouritzmond, Tuinroete nuus'