Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai sport- en rekreasiefees beloof om hierdie naweek wéér kompetisies uit die boonste rakke deur in verskeie sportkodes op te lewer.
Sportgeesdriftiges stroom na Mosselbaai en die Mossel Bay Advertiser het verneem dat akkommodasie, weer soos verlede naweek, reeds volbespreek is soos feesgangers hul plekkie verseker om in die hoogtepunte op die feesprogram te deel.
Verlede naweek het sportliefhebbers gedeel in byeenkomste soos atletiek, raakrugby, tennis, seiljagresies, duplikaatbrug, karate en domino's.
Saterdag, 29 September het feesgangers 'n keuse van 12 sportkodes gehad om aan deel te neem of van die kantlyn af te geniet. Atletiek, 'n pretstap - die immergewilde MossMarch, skaak, die Hoërskool Punt-krieketfees, veerpyle, die Hartenbos-parkrun, motorsport, netbal, karate, valskermspring en tennis was op die spyskaart.
Sondag het die domino's, krieketfees, motorsport en tennis voortgegaan.
Hierdie naweek
Vandag, Vrydag 5 Oktober warm die naweek se aktiwiteite op met skole-krieket en CrossFit.
Môre, Saterdag, 6 Oktober gaan die hele Mosselbaai-omgewing wemel van sportlui.
Valskermspringers het hul kundigheid gewys.
Aktiwiteite op die program is onder meer rolbal (Mosselbaai-rolbalklub), boks (binnenshuise-sportsentrum), o/13-krieket (Van Riebeeckstadion), CrossFit (Santosstrand), sokker (Uitbreiding 23-sportgronde), praktiese pistoolskiet (Reebok Stene-skietbaan), jukskei (Hartenbos-sportgronde), lewensredding (Santosstrand), modelvliegkuns (Mosselbaai-vliegveld), PetroSA Marathon (Santos-karavaanpark), landelike burgemeesters sewestoernooi, (Greenhaven- en Groot-Brakrivier-sportgronde), tennis (Mosselbaai- en Klein-Brakrivier-tennisklubs) en die Catamaran Regatta (Santosstrand).
Sondag, 7 Oktober gaan die sport voort met rolbal, CrossFit, sokker, sewesrugby en die Catamaran Regatta.
Foto's: Nickey le Roux, Grey Stopforth, Elaine van der Toorn, Tersia Marais, Anton Gericke en Johann Erasmus.
Klik hier vir fotogallerye:
- Motorsport by Mosselbaai Sportfees
- Gestremdhede atlete deel in fees
- Puik atletiek in Mosselbaai
- Skaakkampioenskappe op Mosselbaai
- Mossel Bay MossMarch underway
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'