MOSSELBAAI NETBAL NUUS - Plastics for Africa het met die kampioenskap weggestap in die Eden sosiale netballiga deur Unfit & Fabulous in die eindstryd op Hartenbos met 33-12 te troef.
Die gemengde kampioenspan het met hul eerste deelname enduit onoorwonne gebly.
Buns on the Run het die bronsmedalje gewen deur Brakkies in die eindstryd met 19-15 te klop.
Die Eden sosiale netballiga, wat dit moontlik maak om netbal as gesinsport te beoefen omdat mans en vroue in dieselfde span kan speel, was 'n reusesukses met agt spanne wat in die reeks deelgeneem het.
Die sosiale netballiga is in die lewe geroep om enige belangstellendes te akkommodeer en die geleentheid te bied om saam met die hele gesin oefening te kry.
Wedstryde word eenmaal per week op Hartenbos of Groot Brak gespeel. 'n Wedstryd beloop 28 minute, vier kwarte van sewe minute en vroue- en gemengde spanne kompeteer vir die goue medalje aan die einde van die seisoen.
Belangstellendes kan vir Mike Geldenhuys by 084 010 2423 skakel.
Die wenspan van die liga, Plastics for Africa, saam met die organiseerder, Mike Geldenhuys (heelregs agter) afgeneem. Die spanlede is agter, van links: Marius Nel, Arno Vermaak, Luzaan Gerber, Linda Eilhers, Chane Gruices, Adri Botha en Mikealla de Kok. Voor: Danie Groenewald. Afwesig: Stefan Schenk, Natasha Schmitd, Cameron Stronach en Nika Wolmarans.
Unfit en Fabulous, wat silwer gewen het, se spanlede is agter, van links: Rohan Vermaak, Valenti de Swardt, Annarie Coetzee, Yolandi Nelson, Chané Olivier, Christelle van Zyl en Stephan Olivier. Voor: Marike Breytenbach en Tania Muller.
Buns on the Run het die bronsmedalje ingepalm en die spanlede is agter, van links: Esti van Schalkwyk, Ryno Enslin, Lisa-Marie Wolhuter en Alfie Byleveldt. Voor: Janine van der Merwe, Riatha Grobler en Ashley Koen. Afwesig: Kyla Joubert.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'