MOSSELBAAI NUUS - Die Raath-egpaar het op hulle "oudag" 'n nuwe blaadjie omgeslaan wat hulle 'n wêreldklas prestasie laat behaal het.
Beide het in die Mosselbaai-omgewing grootgeword en het ses jaar gelede hier kom aftree.
Op 66, is hulle die eerstes in Suid-Afrika wat die afgelope week hulle 250ste (not)parkrun voltooi het.
Die (not)parkrun het in Junie 2020 gedurende die Covid-19-inperking ontstaan om geregistreerde parkrunners die geleentheid te gee om steeds aktief te kan bly.
In Oktober verlede jaar het die Mossel Bay Advertiser berig oor die Raaths se 100ste agtereenvolgende (not)parkrun. Nou het dié voortreflike egpaar hul prestasie meer as verbeter. Slegs vier ander deelnemers ter wêreld uit die 21 lande waar die parkrun gehou word, kan met hierdie mylpaal spog. Volgens plaaslike parkrunkoördineerder, Ita van Rensburg, is daar twee in die Verenigde Koninkryk, een in Duitsland en een in Australië.
"Daar is wel ander mense wat die 250 kerf bereik, maar wat hierdie groep insluitend die Raaths se poging merkwaardig maak, is dat hulle almal vanaf 15 Junie elke dag 5km stap of hardloop ongeag die omstandighede en dit dan op die parkrun-webtuiste aanteken."
Die Raaths is nederig oor hulle prestasie.
Volgens Estelle het hulle bloot besluit dat as afgetredenes, hulle nou uiteindelik die tyd het om na hulle gesondheid om te sien.
"Jonger mense het nie altyd die tyd om gesonde dinge toe doen. Ons wou 'n bietjie gewig afskud en nou het ons 'n nuwe leefwyse." Sy sê die stappery is haar en Neels se saamweestyd. Sy beken dat daar op hulle ouderdom maar dikwels 'n skeet opduik, maar hulle motiveer mekaar.
"Ons vind groot inspirasie uit Erns Grundlingh se boek wat hy oor sy Camino-staptog geskryf het. Vir alles was sy antwoord 'walk it off'. As ons soggens opstaan en moet gaan stap en een van ons het 'n skeet of voel nie lekker nie, dan sê ons net 'walk it off'."
Volgens Ita, kan Mosselbaai met reg op die plaaslike deelnemers aan die Outeniquabosch-parkrun trots wees. "Outeniquasbosch is baie weke bo-aan die lys van die 223 parkruns in Suid-Afrika ten opsigte van meeste deelnemers asook meeste (not)parkruns vir die week. Dit is regtig 'n prestasie as jy dit vergelyk met van die ander parkruns in SA."Outeniquasbosch het 835 geregistreerde parkrunners en kompeteer beduidend teen parkruns soos Botanical Gardens in Pretoria met 62 622 deelnemers, North Beach in Durban met 44 077, Delta in Johannesburg met 37 284 en Bellville met 33 542.
"Ek dink Mosselbaai kan met reg trots wees op Outeniquasbosch-parkrun en ons entoesiastiese en toegewyde (not)parkrunners. Dit is regtig 'n geval van they gave us lemons and we decided to make lemonade," sê Ita.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'