TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Die opskorting van parkruns as gevolg van die koronavirus-pandemie het 'n groot leemte gelaat in die 21 lande waar die gewilde byeenkomste plaasvind.
Die Verenigde Koningkryk se parkrun het toe vorendag gekom met 'n kreatiewe idee om deelnemers aktief te hou. Hiervolgens kan mense hulle eie 5 km-roete doen wat hulle dan op 'n webblad wat spesiaal daarvoor ontwikkel is, kan registreer.
Só het (not)parkrun in Junie die lig gesien.
Neels en Estelle Raath, twee gereelde parkrunners van Mosselbaai wat aan die Outeniquasbosch-parkrun deelneem, is beide in hulle sestigs.
Die paartjie het van die eerste dag af van die geleentheid gebruik gemaak om hulle stappies te registreer.
Hulle het in die grendeltyd daagliks begin stap om fiks te bly en ook om die verveling hok te slaan. Sodoende kon hulle hul ekskursies registreer en het dit boonop in 'n regte passie ontwikkel.
Hulle het behoorlik die pragtige Mosselbaai plat gestap en verken. Party dae het die wind hulle amper omgewaai en ander dae het die reën gelol, maar oorslaan was nie 'n opsie nie.
Deelnemers kry boonop 'n weeklikse e-pos van parkrun wat ook hul beste tyd reflekteer.
Hulle passie het tot gevolg gehad dat die Raath-egpaar die eerste en enigste persone in Suid-Afrika is wat op dag 100 hul 100ste (not)parkrun kon registreer.
Daar is net vier ander persone in die wêreld wat op dieselfde prestasie kan roem.
Hulle het nou al meer as 1 000 km gestap en in die proses ook sommer 'n hele paar kilogram langs die verskillende roetes afgeskud.
Mosselbaai- en Outeniquasbosch-parkrun is met reg trots op die Raaths. "Doen so voort julle twee! Julle is inderdaad 'n inspirasie," prys Ita van Rensburg van die plaaslike parkrun.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'