MOSSELBAAI NUUS - Carlu Pienaar het in April, tydens sy vierde Twee Oseane-ultramarathon, uiteindelik vanjaar onder sy vier ure merk ingekom.
Dit het aanhoudende oefening en sowat 350 uur en 4 200 km per jaar op die pad gekos, maar hy is op 11 April met 'n indrukwekkende tyd van 03:58:29 vir dié 56 km-ultramarathon beloon.
Pienaar, 'n elektrisiën/verkoelingstegnikus van beroep, vertel fietsry was eintlik vir baie jare sy gekose sport.
Hy het in Junie 2023 eers besluit om as aanvulling hiervoor te begin hardloop.
"Maar ek het vinnig van die sport begin hou en het toe sowat agt maande later my eerste Two Oceans Ultra gehardloop," sê hy.
"My mikpunt was van die begin af om onder vier uur te hardloop vir 'n silwer medalje, maar ek het net nie die bene daarvoor gehad nie. Ek kon slegs 04:14 handhaaf."
In 2024 neem dit hom vier uur en 10 minute, en in 2025 vier uur en twee minute. "Om dit met twee minute te mis was 'n harde hou gewees, maar ek het kort ná die eindstreep daarmee vrede gemaak," sê hy.
Hiérdie jaar het hy besluit om sy wedloop te beplan en daarby te hou.
Hy sou teen 'n pas van vier minute en 15 sekondes per kilometer hardloop sodat hy net-net onder vier uur kon eindig, en ook sodat hy homself nie te vroeg uitbrand nie.
"Teen die tyd wat ek die bokant van Constantia Nek bereik het, was ek so 'n bietjie agter, en ek het toe die laaste 12 km gehad om te probeer tyd opmaak. Ek het dít basies in die laaste 8 km gedoen en het teen 'n gemiddelde pas van 04:14 per kilometer geëindig.
Dit het my vier jaar geneem om hierdie doelwit te bereik, en ek is dankbaar dat ek die talent gekry het om dit te kon doen."
Hy sê die mense wat hom op hierdie vier jaar pad ondersteun het en in hom geglo het, verdien beslis ook 'n dankie. "My oom, Edwin, en sy dogter, Kiki, ondersteun my elke jaar langs die pad by die wedloop. Al kon ek dit nie voorheen regkry nie, besluit hulle elke jaar om daar te wees.
Carlu Pienaar en sy vrou, Natasha, by die eindpunt.
"My vrou, Natasha, en die kinders, Lizay, Chloé en Luan, se ondersteuning het 'n groot bydrae gelewer vir my om dit te kon doen. Die feit dat ek kan oefen sonder om ons huishouding te ontwrig is vir my baie belangrik, maar ons kry dit ingepas. Natasha maak dit eintlik baie maklik vir my.
"Om hulle langs die pad in Houtbaai [sowat 40 km van die beginpunt af] te kon sien was vir my 'n baie spesiale oomblik, en ek sal dit nie vergeet nie."
Natasha, Chloé, Lizay, Carlu en Luan Pienaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’