Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - Nege-en-twintig dae nadat vier plaaslike inwoners letterlik 'n marathonmaand aangepak het om geld vir liefdadigheid in te samel, het die twee egpare betrokke op Maandag, 2 Mei net voor 09:00 hul laaste kilometers voltooi. 'n Duisend kilometer is kafgedraf.
Lukas en Christa Smith, saam met Lourens en Elma Nel het met 'n groot gejuig die projek voltooi. Die twee vroue het gedraf en gestap, terwyl die manne op hul fietse meegedoen het.
Die viertal, wat nou nie meer vandag se kinders is nie, het op Sondagaand, 3 April by die Kom Tuis-kerk in Heiderand weggespring om 1 000km in 29 dae af te lê. Die doel was om geld in te samel om behoeftige gesinne binne en buite die gemeente.
"Ons het met die ongelooflike totaal van 1 518km in 29 dae geëindig. Alle eer aan ons Hemelse Vader wat vir ons die krag, gesondheid en uithouvermoë gegee het," het Christa na voltooiing van die marathon aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
"Dit het al ons verwagtinge oortref en dankie vir elke gebed en woorde van bemoediging," sê Christa.
Die vier is baie dankbaar aan elke borg wat skenkings en donasies gegee het. 'n Totaal van meer as R50 000 is ingesamel. Hulle het die span agter die skerms bedank vir hulle ondersteuning en harde werk.
VIDEO: 1 518km in 29 dae
Verskeie stalletjies asook 'n witolifanttafel by die eindpunt was reeds van 08:00 af oop by die Shell-vulstasie in Voorbaai waar die marathon ten einde geloop het en dit alleen het R4 037.70 ingesamel. Die eienaars wat die perseel by die eindpunt beskikbaar gestel het, is ook bedank.
FOTOGALERY: Marathonmaand is verby
Die 29 dae was nie sonder voorvalle nie. Lourens was 'n paar dae in die hospitaal en het gesukkel met sy heup na 'n vorige heupoperasie. Lukas het 'n paar dae uitgesit as gevolg van griep. Christa het gesukkel met 'n seer knie en blase, maar niks ernstig nie.
Individueel het Lourens 152.831km, Lukas 834.244km, Christa 199.400km en Elma 331.450km afgelê.
"As dit die Vader se wil is, gaan ons verseker nog sulke projekte loods," sê Christa.
Organisasies wat soortgelyke projekte wil loods en hulle wil betrek is welkom om met hulle kontak te maak. "Donasies is steeds welkom aangesien dit ons hartsbegeerte is om deurlopend aan die gemeenskap terug te ploeg," sê sy. Kontak vir Elma (082 044 4588) of Christa (082 040 7586).
Verskeie stalletjies is bedryf op Maandag, 2 Mei by die eindpunt van die marathon.
Elma en Lourens Nel en Lukas en Christa Smit hier by die Shell vulstasie in Voorbaai na hulle gesamentlik 1 518km in 29 dae vir liefdadigheid afgelê het.
Foto's: Jannie du Plessis
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'