TUINROETE | KAROO NUUS - Die mediabekendstelling van die 2022 Eden Straatmylreeks (Eden SMS) is Woensdag, 23 November by die ATKV op Hartenbos aangebied.
Dié elite projek is die breinkind van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF). Hans van der Veen, voorsitter van die reëlingskomitee, het ‘n historiese oorsig oor die straatmylreeks gegee.
Die reeks wat tydens die Desembervakansie plaasvind, is uniek in Suid-Afrika omdat dit ‘n geleentheid vir deelname aan drie wedlope binne ‘n bestek van vyf dae bied. Vanjaar se reeks beloof om ekstra opwindend te wees nadat wêreldatletiek aangedui het dat straatmyle vanjaar vir die eerste keer deel van hul Wêreld padkampioenskap-program sal wees.
Dirk Kotzé, die burgemeester van Mosselbaai, het beklemtoon dat Mosselbaai-munisipaliteit se strategiese visie is om sportbyeenkomste wat sporttoerisme bevorder, soos die onlangse Ystermankompetisie en die komende Eden Straatmylreeks, te ondersteun. Hy het die organiseerders aangenaam verras met ‘n onverwagse bydrae van R5 000 vir die 2022 reeks. Hy het ook aangedui dat groter betrokkenheid vir die 2023 reeks reeds oorweeg word.
Shireen Noble, Atletiek Suid-Afrika (ASA) se visepresident, het vir die eerste keer sedert sy tot die rol verkies is, in haar tuisprovinsie in haar amptelike hoedanigheid as ASA visepresident opgetree. Sy het uitgelig dat die Straatmylreeks voormalige belowende ASWD juniors wat hulle loopbane na skool elders as seniors voortsit, die geleentheid bied om weer plaaslik te kom deelneem.
DB Prinsloo (Kovsies), Ruben Gouws (NWU) en Jean Neethling (DCAS) het die belangrike rol wat die Eden SMS in atleetontwikkeling speel, beklemtoon. Die reeks is gevestig op die program van Suid-Afrika se atlete en die atlete kan uitsien daarna om in ‘n ontspanne atmosfeer hulself teen die land se bestes te kom meet. Voorbeelde van opkomende atlete wat oor die jare deelgeneem en naam gemaak het, sluit in Elana Meyer, Elroy Gelant, Jerry Motsau, Carina Viljoen en Ryan Mphahlele.
Belowende atlete soos Nkosinathi Sibiya, die driemalige SA Kampioen in die 1 500m, Paballo Radebe en Tinyiko Ndala, beide SA Junior kampioene, gaan vanjaar vir die eerste keer deelneem.
Twee Suid-Afrikaners wat tans in die VSA gebaseer is, Carina Viljoen (Mammoth Atletiekklub) en Danielle Verster (Universiteit van Albuquerque) gaan weer teen mekaar deelneem.
Behalwe vir die totale prysgeld van meer as R50 000, het die Spar in Wellingtonstraat, George, die Spar in Wildernis, Richard Els en Danie Bester onderneem om tydsaansporingspryse vir die baanmyle te borg. Mansatlete wat droommyle hardloop, sal elkeen vir ‘n addisionele R1 500 kwalifiseer.
Daar is ook dieselfde aansporing vir vroue wat ‘n tyd van 4:38 oortref.
Vanjaar se reeks bestaan weer uit twee wedlope op Oudtshoorn (Klein Karoostraatmyl op 17 Desember in Baron van Reedestraat en die Swartbergbaanmyl op 19 Desember op die De Jager-atletiekstadion) en die reeks eindig met die ATKV-straatmyl op 21 Desember in Hartenbos.
Besoek www.edenmiles.co.za vir meer inligting of om aanlyn in te skryf.
Shireen Noble, visepresident Atletiek Suid-Afrika (ASA) en president van Atletiek Suid-Westelike Distrikte (ASWD). Foto: Verskaf
Ruben Gouws (NWU), DB Prinsloo (UVS), Dirk Kotzé (burgemeester Mosselbaai), Karen Phipson (ATKV), Jean Neethling (DCAS), Shireen Noble (ASA visepresident) en Hans van der Veen (KKAF). Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'