Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Om goeie teelduiwe onder wedvlugduiweboere uit te ruil, is 'n tradisie in die wedvlugduiwebedryf. Talle wenduiwe is al so in die proses geteel en kombinasies van gene kom oral in die wêreld voor.
Maar só 'n stokperdjie begin altyd by 'n duif.
Richard Boshoff, inwoner van Da Nova in Mosselbaai het in 1985 as graad 7-leerder sy eerste twee wedvlugduiwe van Rob Edwards, 80-jarige legende in die wedvlugduifkringe ontvang.
Dié spesifieke duiwe het verskeie wenduiwe vir Boshoff geteel. Oor die jare het hy belangstelling by sy oudste seun, Franco gekweek en later jare ook by sy jongste, Logan.
Franco is 'n finale jaar onderwysstudent op Stellenbosch en Logan is 'n graad 7-leerder in Laerskool Park.
Jare later word die tradisie van teelduiwe voortgesit toe Edwards onlangs vir elk van Boshoff se twee seuns ook van sy teelduiwe oorhandig het. Edwards het jarelank Springbokkleure met sy wedvlugduiwe verwerf.
"Ons ouer geslag moet die tradisie voortsit met die jonges en die kennis wat ons het met hulle deel voor alles verlore gaan," vertel Edwards. Boshoff self het deur die jare gereeld aan Edwards se deur geklop om kennis in te win.
Soos Boshoff, kom Edwards se liefde vir duiwe ook van sy jong dae af. Edwards was agt jaar oud toe sy pa en broer vir hom 'n klein hokkie gebou het met 'n paar duiwe. Eers in 1967 het hy met wedvlugduiwe begin.
Hy was drie keer oorsee en het daar kennis by verskeie wedvlugduiweboere ingewin. Hoewel hulle omstandighede verskil van die Suid-Afrikaanse omgewing, was dit sekerlik van die hoogtepunte in sy lewe.
Video: Duiwe tradisie met jongspan voortgesit
Logan het in 'n onderhoud verlede jaar met die Mossel Bay Advertiser gesê: "Ek is my pa en broer ewig dankbaar dat hulle my op 'n vroeë ouderdom aan duiwewedvlugte blootgestel het en het ek 'n liefde vir duiwe en 'n passie vir die duiwesport ontwikkel."
Hy het verskeie prestasies verlede jaar met sy duiwe behaal. Hy vlieg vanjaar vir die tweede jaar in die junior afdeling van die Mosselbaai-posduifklub. Beide jong manne het Edwards bedank vir die duiwe en gaan hulle beslis met die nuwe bloedlyn nuwe hoogtes bereik.
Wedvlugduiwe behels nie net kos gee, hokke oopmaak en duiwe laat oefen nie. Dit is 'n sport soos enige ander sport.
Buiten gebalanseerde kos, baie oefening en inentings is daar baie aspekte wat in ag geneem moet word om 'n wenduif te teel.
Weerstoestande soos temperatuur en wind, asook berge, oorhoofse kraglyne en roofvoëls is maar 'n paar van die faktore wat duiwe soms op pad huis toe moet trotseer in ons land.
Duiwe word voor 'n wedvlug goed voorberei vir die kort-, middel- of langafstand en sal soms tydens wedvlugte gaan sit om water te drink. Van die langste afstande wat gevlieg word kan tot so ver as 1 000km wees.
Hierdie kennis word van duiweboer na duiweboer en van pa na kind oorgedra en beywer hulle om 'n liefde vir die sport by die jeug te kweek. Sodoende word die geleentheid geskep om verantwoordelik en verskeie ander lewensvaardighede aan te leer.
Van links: Franco Boshoff, Rob Edwards, Logan Boshoff en pa Richard Boshoff met een van Edwards se spogduiwe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'