MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die jaarlikse Boston-marathon is een van die internasionale marathons wat hoog aan die gewildheidsleer vir atlete staan.
Plaaslike atleet Kallie Burger het Maandag, 18 April sy eerste Boston-marathon aangepak en met 'n tyd van 02:30:46 het hy 147ste uit die 25 070 deelnemers geëindig. By die halfpad merk het hy op 01:14:16 gedraai.
Dit is voorwaar 'n prestasie as mens kyk na die ander statistieke. Burger het die 132ste plek onder die 14 319 mans gehardloop en onder mans tussen die ouderdom van 40 - 44 jaar was hy 11de. Dít met 1 996 deelnemers in die ouderdomsgroep.
"Ek wil die groot ses almal doen. Ek het twee uit die ses oor. Nog net Londen en Tokio," sê Burger. Om die groot ses te doen is 'n baie groot prestasie. Hy het nou reeds die New York, Chicago, Boston en Berlyn voltooi. Volgens hom is daar net 7 700 in die wêreld wat dit kon doen.
Burger het onlangs 'n artikel in die Mossel Bay Advertiser geskryf oor 'Parkrun tot Comrades' en is voorwaar 'n kenner op die gebied.
Die Boston-marathon van 42km word jaarliks deur stede en dorpe rondom die groter Boston area gehou en word tradisioneel op die sogenaamde Patriot's Day gehardloop wat elke jaar op die derde Maandag van April plaasvind.
Die spog medalje wat nie in elkeen se kas hang nie.
Kallie Burger se mikpunt - die groot ses. New York, Chicago, Boston, Berlyn, Londen en Tokio waarvan hy nog net die laaste twee moet doen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'