TUINROETE NUUS - Om enige sport aan te pak moet jy êrens begin. Met hardloop is daardie stap om uit jou bed uit te kom. En glo my as ek jou sê, van die beginner tot 'n "elite"-atleet is dit die moeilikste deel. Oorkom dit en jy is halfpad daar.
Hierdie hele reis begin met jou drome, jou ideale en jou motivering. Die eerste en belangrikste reël is konsekwentheid. Jy moet elke dag opstaan en gaan oefen.
Die meeste beginners wil dag een daardie nuwe tekkies aantrek en dadelik 10km gaan hardloop. Dit is die eerste en grootste fout wat jy kan maak. Begin klein.
Ek kyk altyd daarna en sê dit is soos om 'n huis te bou. Ons begin met die fondasie. As die fondasie goed gelê is dan kan die huis veilig en sterk gebou word.
Ons almal het verskillende ideale en drome, maar maak nie saak wat dit is nie, alles begin by jou.
Comrades is ses maande weg. Dit is nog meer as genoeg tyd om van beginner tot in Durban te kom vir daardie baie klein medaljes wat om jou nek gehang word. Maar om as 'n Suid-Afrikaner die Comrades te kan hardloop is spesiaal. Op daardie dag kom elke ras en kleur bymekaar en los almal hulle politiek by die huis.
Almal het net een doel voor oë en dit is om by die einde te kom. Dit is 'n "Comeraderie" wat jy nie êrens anders in ons land sal ervaar nie.
Week 1 vir almal is om net te begin. Ek gaan hierdie week 'n baie beginner en meer intense program bymekaar sit.
Week 1: (Beginner)
Maandag - Vrydag:
2km - begin van jou huis af. Gaan 1km uit en draai na 1km terug
Saterdag:
5km - Parkrun (as dit jou eerste is gaan net en geniet dit. Jy het 'n hele uur om klaar te maak.)
Die fokus moet glad nie die pas wees nie. Hardloop eerder stadiger en probeer nie loop nie.
Week 1: (Comrades)
Maandag - Vrydag:
10km - probeer 'n paar bulte insit
Saterdag:
15km – langer afstand.
Die fokus moet glad nie die pas wees nie. Hardloop eerder stadiger en probeer nie loop nie.
Ek kan gekontak word vir spesiale programme. Absoluut gratis.
Ek het die volgende nodig:
Doel, beginner, ouderdom en geslag.
Kom ons probeer week 1 en dan vat ons die ding van daar af.
Mosselbaaiers kan gerus hierdie ervare atleet kontak by kallieyster@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'