MOSSELBAAI SPORT NUUS - 'n Span blinde rolbalspelers en hulle gidse vertrek hierdie naweek na Australië om vanaf 5 tot 16 Maart aan die Wêreldkampioenskap vir visueel gestremdes te gaan deelneem.
Hartenbos-rolbalklub se Eben Fourie en sy gids Charles Collen vertrek môre, Saterdag 25 Februarie, vanaf George na Johannesburg om Sondag, 26 Februarie by die res van die Suid-Afrikaanse span aan te sluit.
FOTOGALERY: Hartenbos-rolbalklub vertrek na Australië
Hulle vlieg Sondag via Singapoer na Brisbane om 'n paar dae voor die tyd aan die bane en toestande van Australië gewoond te raak. Hulle speel by Tweed Heads Rolbalklub, aan die Gold Coast.
Eben het in George grootgewoord en is 'n oud-Kwagga. Hy en sy vrou, Hannetjie bedank al die Hartenbossers, Mosselbaaiers en vriende van die omliggende gemeenskappe vir hulle bydraes, hulp, donasies en ook die wat op verskillende maniere gehelp het om fondse in te samel.
Die hele span se doelwit is R1,2 miljoen en die span kort nog sowat R70 000. "Ons het deur die hele insamelingsprojek bitter min nee's gekry. Ek het weer eens besef hierdie gemeenskap het oop harte en hande vir die gestremdes," sê Hannetjie.
Hulle het ook Mosselbaai se burgemeester en sy komitee bedank vir hulle bydrae aan die span. "Elize Nel het stil agter die skerms 'n groot bydrae gelewer en ons gehelp om met die regte mense kontak te maak. Baie dankie ook aan die Mosselbaai Sportraad, Shjanniel Busch en raadslid Donovan Claassen," sê sy.
Fondse vir Eben en Charles se uitgawes is onder meer ingesamel deur middel van die aanbied van pretdrawwe waar medaljes uitgedeel is en wat deur Mossel Bay Advertiser se lesers en die gemeenskap geskenk is. Hulle bedank al die drawwers wat deelgeneem het asook vir Denise Lloyd, die Hartenbos-rolbalklub, borge van pryse en die Advertiser vir hulle bydraes.
"Nou is die taak op Eben, Charles en die res van die span se skouers om Suid-Afrika met trots te gaan verteenwoordig, hulle bes te doen en om die spantrofeë en medaljes huis toe te bring. Ons staan bankvas agter hulle en bid vir 'n veilige reis soontoe en terug," sê Hannetjie. Hulle word op 20 Maart terug in Suid-Afrika verwag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'