MOSSELBAAI NUUS - Die Ou Mutual Mosselbaai-gholfklubkampioenskappe wat op Saterdag, 30 en Sondag, 31 Maart plaasgevind het, het alle verwagtinge oortref, deurdat 'n rekordgetal van 132 spelers mekaar die stryd in heerlike weersomstandighede aangesê het.
Die stryd was fel en in die A-afdeling (voorgee +5 tot 9) het drie spelers met plus voorgeë, Jordan Duminy (+5), Martin Vorster (+4) en Ian Pautz (+2), al drie lede van die Louis Oosthuizen57-gholf-akademie, hulle staal kom toon.
Die Britse ope junior kampioen, Martin Vorster, het bewys dat sy talent nog baie roem vir Mosselbaai gaan bring, deurdat hy sy naaste teenstander met sewe houe geklop het en na 36 putjies slegs 135 houe aangeteken het. Dit is die tweede keer dat Martin as Mosselbaai-gholfklub se kampioen gekroon word.
'n Ewe merkwaardige speler, die 57-jarige Donny Smith (voorgee 2) het as naaswenner op 142 houe sy veel jonger teenstanders laat les opsê het. Die netto-wenner in die A-afdeling was Morné Hugo (146 houe) met Thys Greyvenstein (148 houe) in die tweede plek.
In die B-Afdeling (voorgee 10-18) het die manne mekaar behoorlik opgekeil, soveel so dat daar 'n uitklopronde tussen Johnny Fourie en Pieter Venter, albei 163 houe, plaasgevind het. Johnny kon net-net die knoop deurhaak en is as 2019-kampioen in die B-afdeling gekroon.
Die netto-afdeling is deur die altyd glimlaggende, vriendelike Chris Barnard, op 142 houe gewen. Een van die mees onderskatte spelers in die klub, David Wandrag, het sy stem dik gemaak en op 145 houe die tweede plek ingeneem.
Die wenner van die C-afdeling (voorgee 19+) is ook 'n merkwaardige speler en mens. Die 84-jarige Ron Bates het vriend en vyand verras deur op 187 houe sy veel jonger teenstanders te troef en as kampioen gekroon te word. Hy het sy vlug Engeland toe verpas om hierdie prestasie te behaal. Selfs die vernuf en deursettingsvermoë van Gert Pieterse (naaswenner op 193 houe) kon nie vir Ron in sy spore stuit nie. Martin Smith was die netto-wenner op 156 houe in die C-afdeling met André Zietsman (158 houe) in die tweede plek.
In die senior-afdeling (50 tot 69 jaar oud) het Donny Smith sy oorheersing beklemtoon deur vir die vierde agtereenvolgende jaar op 142 houe koning te kraai. Selfs Bertus Smit (voorgee 0) wat spog met seker die meeste klubkampioenskaptitels in die land en wenner van die Walliese Ope, toe hy nog 'n professionele speler was, kon nie vir Donny in toom hou nie.
Bertus was tweede op 157 houe. Sakkie Morrison se 149 houe het hom die wenner in die netto-afdeling gemaak.
Die veterane-afdeling (70-jaar plus) is deur Johan Griesel op 175 houe gewen met Dawid Gerber 181 houe die naaswenner. Die junior kampioen vir 2019 is Martin Vorster (135 houe) met Jordan Duminy (146 houe) die naaswenner. Ian Pautz (150 houe) was die netto-wenner.
"Aan Sieg Stander, Len en Johan Strauss, verteenwoordigers van Ou Mutual, wil ons baie dankie sê vir die groot aantal jare wat hulle al as borg van ons kampioenskappe optree. Julle lojale ondersteuning van ons klub is vir ons goud werd! Vertrou ons sal nog vir baie jare die pad saamloop!"
Kategoriewenners.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'