TUINROETE DISTRIK GHOLFNUUS - Die laaste Woensdag in die maand lok die Sakemannedag soos gewoonlik hordes spelers na die baan om in hulle gewilde borgdag te kom stokke swaai. Woensdag, 25 Augustus was dan ook geen uitsondering nie.
Die gekombineerde beterbal stablefordkompetisie vereis dat beide spelers se punte bymekaargetel word, wat uit die aard van die saak vereis dat albei spelers hulle allerbeste moet lewer.
Hilton Duminy en sy dogter, Jodie Duminy, het met hulle gesamentlike 77 punte die wenners-podium bestyg.
Pa en seun, Nico en Maurice Bernardo, het hard in hulle nekke geblaas en op 75 punte was hulle die naaswenners. Ulrich Steinhobel (voorgee +2) en Armin Kade het op 74 punte gesorg dat die derde plek deur hulle ingepalm word.
Die gelukkige wenners van die oorblywende plekke is deur die volgende spelers gevul: C van den Berg en A Zeelie, M Rehr en H Rehr (albei pare op 73 punte) en W Kotzé en F Brown op 72 punte. Hartlike dank aan al die sakemanne wat maand na maand hulle hande diep in hulle sakke steek om die dag moontlik te maak.
Winteruitklop-kompetisie
Sakkie Morrison wat deesdae uitmuntende gholf speel, het behoorlik sy hande vol gehad toe hy in die Winteruitklop-kompetisie teen die entoesiastiese Robert Muller te staan gekom het. Sakkie se groter ervaring het eindelik die deurslag gegee en hy kon uiteindelik die knoop deurhaak na daar bykomende putjies gespeel moes word.
Saterdag
Gure weer het Saterdag, 28 Augustus se individuele kompetisie lelik in die wiele gery. 'n Klompie bittereinders het enduit volhard en hier het André du Plessis sy staal getoon en op 37 punte as oorwinnaar uit die stryd getree. Jaydee Bester het ook 37 punte aangeteken, maar na die uittel is hy tweede geplaas. Piers Hitchner se 36 punte het hom in die derde plek laat inskuif.
Die Mosselbaai Ope wat Sondag, 29 Augustus in perfekte weersomstandighede plaasgevind het, is deur Dandré de Villiers van Kingswood op 69 houe gewen. Weens ander verpligtinge kon ons twee ster-spelers, Martin Vorster en Jordan Duminy nie deelneem nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'