MOSSELBAAI NUUS - Met die nuwe jaar in volle swang en die mense se geesdrif en entoesiasme grensloos, is dit 'n heerlikheid om weer ons ou lede by die klub terug te verwelkom.
Almal lyk uitgerus en gereed om die nuwe jaar met oorgawe aan te pak.
Woensdag, 12 Januarie het die nimlike JJ Joubert behoorlik die krane oopgedraai en op 42 punte was hy die gewilde wenner in die individuele stablefordkompetisie. André du Toit was kort op sy hakke met selfs 'n verdienstelike 41 punte.
Die derde plek op 40 punte het aan Koos van Niekerk behoort. Die volgende spelers het ook in die pryse gedeel: C Barnard en Stefan van Vuuren elk op 39 punte, asook Elmar Noppe en Chris van den Berg op 38 punte.
Saterdag
Die 160 spelers wat Saterdag aan die vierbal alliansiekompetisie deelgeneem het, het versengende hittegolwe beleef. Die span van Vic Moll het egter die hitte weerstaan en op 96 punte het sy span bestaande uit Brown Voster, Michael Kriel en Clive Kaptein 'n onaantasbare 96 punte aangeteken.
Gielie Gagiano en sy span, bestaande uit Bart Saayman, Louwtjie Louw en Attie van Niekerk het op 92 punte die wenners verslae agterna gekyk.
JJ Joubert speel tans uitmuntende gholf en met die hulp van sy maats, Karools Hauptfleisch,Garreth Shippen en hulle spookmaat behaal hulle 89 punte en eindig in die derde plek.
Baan gesluit
Besoekers en lede moet daarop let dat die baan vanaf Sondag, 31 Januarie om 13:00 vir drie dae gesluit sal wees vir dringende werk (hollow tine) wat op die baan gedoen moet word.
Die baan sal op Woensdag, 3 Februarie soos gewoonlik weer oop wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'